Hierdie is vir my een van die mooiste aanhalings; dit het deel van my menswees geword. Ek is ’n kunstenaar wanneer dit by die lewe kom — my lewe is my meesterstuk.
Ek moet bely: die laaste paar jaar het ek my meestal in ’n moeras bevind. Daar was altyd ’n krokodil of twee op die loer, gereed om my bene onder my uit te vat. Vir ’n lang tyd het dit gevoel asof ek nie van die stank van daardie moeras, of die koue oë van die krokodille, kon ontsnap nie. Dit het aan my bly kleef.
Miskien was dit egter ’n bedekte seën dat ek tot nou toe nog nie ’n sielsgenoot hier gevind het nie — iemand wat soos ek dink, of met dieselfde oë en hart na die wêreld kyk nie. Dit het my gedwing om die monsters van gister alleen in die oë te kyk en hulle te besweer.
Vandag kan ek met oortuiging sê dat ek uiteindelik gereed is om my “arrival” in hierdie land te vier. Môre is dit presies twee jaar sedert ek hier is. Dit was nie ’n maklike pad tot hier nie. Daar was talle “Shirley Valentine”-oomblikke; dae waar ek nie een maal my eie stem gehoor het nie, bloot omdat daar niemand was om mee te praat nie.
Tog forseer juis dít ’n mens om jou eie geselskap te leer waardeer. Die “bonus” is dat jy gedwing word om vrede te maak met die good, the bad and the ugly van die verlede.
Ek het opnuut geleer dat ons moet lewe soos die voëls en die visse. Daar is niks wat hulle terughou nie. Hulle “wonder en ponder” nie of hulle moet swem of vlieg nie — hulle doen dit net. Hulle oordink niks nie. Soos die wysheid lui: “The body knows how to heal itself, if the mind can get out of the way.” Die feit is dat alles wat met ons of om ons gebeur, ’n merk op die liggaam laat. Ons liggame het ’n hele army wat regstaan om te baklei teen die indringer en om ons te help gesond word, maar ons eie gedagtes staan dikwels in die pad. Ons herkou die verlede; ons dwaal tussen “as dit maar” en “wat as” — gedagtes wat ’n mens tot raserny kan dryf.
Suzuki het ook gesê: “Life is an art, and like perfect art, it should be self-forgetting.”
Die kuns is om die lewe te hanteer soos dit na jou toe kom — om saam met die stroom te vloei. Om te beweeg en te reageer met intuïsie, eerder as om bloot vas te val in weerstand. Natuurlik is daar plek vir introspeksie, maar soms moet ons net laat gaan en kyk waar die stroom ons uitspoel.
Ek vermoed die mees asemrowende meesterstukke was nie met die eerste probeerslag perfek nie. Daar is laag op laag verf oor die oue aangebring om die regte tekstuur en voorkoms te verkry.
So is dit ook met die lewe. Om te “arriveer” is nie die eindbestemming nie. Ons lewens is ’n voortdurende reis. Die ware meesterstuk lê in hoe ons elke nuwe dag hanteer: word ons bitter of beter? Blinker of stinker?
She remembered who she was, and that changed everything.



