Dr. Love en Dr. Hug – dit is hoe Leo Buscaglia bekend gestaan het. Gebore in 1924 en oorlede in 1998, was hy die man wat geglo het dat elke mens drukkies nodig het om fisies en geestelik gesond te bly; hy het selfs aangevoer dat dit ons metabolisme positief beïnvloed.
Volgens hom is vyf drukkies die absolute minimum om te oorleef. Om die status quo te handhaaf, het jy agt nodig. Maar om werklik te floreer? Dan kort jy ‘n volle twaalf drukkies per dag. Vergeet van ‘n appel ‘n dag – twaalf drukkies is die ware geheim. (As ek na sy syfers kyk, is ek self honderde drukkies agter!)
Buscaglia het ‘n fassinerende lewensverhaal, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag. Vandag wil ek fokus op wat hy gesê het oor die risiko om jou idees en drome voor die groot skare te gooi – die gevaar dat dit daar verlore kan gaan.
Hy was nie sommer enigeen wat dinge uit sy duim gesuig het nie; hy was ‘n Professor at Large (’n hoë eer) by die Universiteit van Southern California. Sy resep vir die lewe was eenvoudig: Liefde. Hy was die tipe mens wat in ‘n hysbak met sy rug na die deur sou staan, homself aan die vreemdelinge sou voorstel (terwyl hulle desperaat probeer om oogkontak te vermy) en sê:
“This might be the only chance I’ll ever get to meet you and I don’t want to miss this chance.”
Wat ‘n manier om te leef!
Maar hy het ook die skadukant van die lewe geken. Ons almal weet hoe dit voel wanneer jy opgewonde is oor iets nuuts – ‘n plan, ‘n studieveld of ‘n droom – net om die oordeel, spot en kritiek van mense soos pyle uit ‘n boog te voel. In ‘n oogwenk word daardie entoesiasme nie net gedemp nie, dit word heeltemal uitgeblus. Jy besluit summier dit was in elk geval ‘n dwase idee. Hoe hartseer is dit nie?
Tog is die teenoorgestelde ook waar: as jy jou ideale en drome vir jouself hou, kan dit ‘n stille dood sterf. So, wat staan ons te doen?
Ons moet selektief wees met wie ons die kosbaarhede van ons hart deel. Dit is wys om jouself te omring met mense wat jou sal aanmoedig eerder as kritiseer wanneer jy iets nuuts wil aandurf. Wat ek in my lewe geleer het – uit boeke én eie ondervinding – is dat ons drome die “kinders van ons siele” is. Ons moet hulle koester. Hulle is die bloudruk vir wat ons nog kan bereik voordat ons weer tot stof verander.
Deur jou drome met die regte mense te deel, help dit om daardie visie ‘n werklikheid te maak. Ons het mense nodig wat help om die brug te bou tussen die droom en die aksie wat nodig is om dit te bewaarheid.
Ek dink dikwels aan Rumi se bekende woorde: “Out beyond ideas of wrongdoing and rightdoing there is a field. I’ll meet you there.”
Dit is hoe ek my lewe wil lei: om te help waar ek kan om ander se drome te laat vlamvat, en om mense om my te hê wat dieselfde vir my sal doen.
“Throw your dreams into space like a kite, and you do not know what it will bring back, a new life, a new friend, a new love, a new country.” (Anaïs Nin)



