Wat is die kettings wat ons miskien vandag nog gevangene hou, sonder dat ons eers daarvan bewus is?
Ek dink dikwels is dit so fyn verweef in ons psige, dat ons dit eers as beperkings herken wanneer ons probeer vlieg. Ek weet verseker dat my free spirit van kleins af al, ook sonder dat ek daarvan bewus was, teen die prikkels wou skop, en soos ek groter en ouer geword het, besef het dat tradisie sonder siel, just for the sake of it, maar net ‘n swaar rugsak vol klippe is. Iets wat ek nie met my wou saamdra nie.
Ek het ‘n ander pad gekies as my ma en haar ma voor haar. En my motto in die lewe is, was en sal altyd wees ‘no regrets’ - ek kan sonder voorbehoud sê ek het geen spyt of selfverwyt oor enigiets nie.
Hoe lyk die kettings wat ons terughou?
1. Die Kultus van “Wat sal die mense sê?”
Dit is seker die dikste ketting in ons kultuur. Dit dwing ons om keuses te maak gebaseer op die publieke opinie van mense wat nie eers ons name ken nie (of erger nog, die tannies by die kerk of die bure). Om vry te wees, beteken om te aanvaar dat jy dalk die “skandaal” in iemand anders se storie gaan wees - en dis okay om okay te wees daarmee.
2. Die Erfenis van Martelaarskap
Baie van ons ma’s en oumas het geglo dat ‘n “goeie vrou” haarself heeltemal moet uitwis vir haar gesin. As jy nie moeg, gedaan en sielsverlate is nie, doen jy dit nie reg nie, nè? Hoe goed onthou ek nie my ma se ongemak toe ons voor my huwelik oor seks gepraat het nie - sy het my probeer oortuig dat dit iets is wat jy maar net doen, of jy lus is of nie, solank jou man gelukkig is. Ek onthou dat ek haar gevra het, “Maar wat van my? Ek maak mos ook saak!” Ek het seker gemaak my kinders kry nie dieselfde les van my af nie. Om daardie ketting te breek, is om te besef dat selfsorg nie selfsugtig is nie, maar ‘n noodsaaklikheid vir oorlewing.
3. Die Vrees vir “Vreemde Vure”
My ma het geglo alles wat van die Ooste af gekom het, was 100% sondig. My toegeneentheid tot joga en meditasie en Kahlil Gibran en Rumi, en die dinge wat vir my liggaam en siel goed was, was alles dinge waarmee sy nie grootgeword het nie. Sy het nog daardie ketting van bekrompenheid gedra wat sê dat enigiets wat anders is as wat ons ken, gevaarlik is. Vryheid is om die hele wêreld as jou speelplek te sien en te weet dat jou spiritualiteit of jou intellek nie gaan breek as jy buite die boks dink nie.
4. Die “Goeie Meisie” Sindroom
Ons word geleer om sag te praat, konflik te vermy en altyd te glimlag. Daardie ketting keer dat ons “Nee” sê. ‘n Vry vrou besit haar stem, selfs al klink dit vir ander mense te hard of te kwaai. Never dim your light because someone else cannot stand it.
5. Skuld, skaam, spyt en verwyt was ons stapelvoedsel
Die idee dat ons liggame op ‘n sekere manier moet lyk of dat ons op ‘n sekere ouderdom “klaar” is. Om vry te wees van die spieël se oordeel en die samelewing se tydlyn vir vroue is seker een van die grootste bevrydings wat daar is.
Om te kies om ‘n “vry fokken vrou” te word en te wees, beteken dat ons dikwels daardie onsigbare kontrakte, wat ons nooit geteken het nie, moet opskeur. Die feit dat almal voor ons sus of so gedink of gedoen het, beteken nie dat ons name daarop ge-ets is nie.
Niks is in sement nie!




Ek is Nina. En ek het nie meer ’n stem nie... tot nou toe.
"Hulle sê die skaduwees is stil, maar in daardie stilte lê stories wat die wêreld sal laat ruk.
My storie begin by die dinge waaroor mense fluister: molestering, verkragting en die oomblik toe die stelsel (cmr) my lewe oorgeneem het.
Ek skryf hierdie storie onder ’n skuilnaam, nie omdat ek bang is nie, maar omdat die waarheid groter is as my naam.
Ek is hier vir elke vrou wat haar kinders verloor het, vir elke meisie wat moes baklei teen ’n narsis, en vir almal wat dink hulle is te stukkend om heel te word.
Hierdie is my reis uit die skaduwees uit.
Volg my blad as jy ook deur die donker stap. Jy is nie alleen nie."