Ons is terug by “Dr. Love” (of “Dr. Hug”), Leo Buscaglia.
Hy het geweet hoe pynlik dit is wanneer liefde onbeantwoord bly; wanneer die een kant se liefde soveel groter is as dit wat terugkom. Hy het dit as hopeloos beskryf en dit die “silent heartbreak” genoem.
Dit kan ‘n mens knak. Vir sommige is die kuns van laat gaan (letting go) soveel moeiliker as vir diegene wat oënskynlik net daarmee kan “cope”. Dr. Leo was egter onwrikbaar hieroor:
“While loving without return is a risk, it is necessary to avoid the greater hazard of living without risks.” Daar lê massiewe waarheid daarin. Dit is dalk een van die grootste lesse van die lewe: ons kan nie hierdie pad stap sonder die risiko om te faal nie. Ons móét weet hoe dit voel wanneer liefde in jou gesig teruggegooi word.
Die Onsigbare Venster
Wanneer jy vasgevang is in die pyn van iemand wat jou minder lief het as wat jy húlle het, is dit maklik om te glo jou lewe is verby. Selfs wanneer jy weet iemand hét jou lief, maar hul woorde of dade laat jou onsigbaar voel - asof jy van buite af deur ‘n venster na binne kyk - is dit verpletterend.
Terwyl jou hart in stilte gebreek is, gly dae, maande en jare by jou verby. Voordat jy jou oë kan uitvee, is jou lewe amper verby. En dit is, soos hulle sê, no good.
Natuurlik is die logiese antwoord: “Stof jouself af, trek jou skouers terug, lig jou ken op en kyk verder as die pyn van die oomblik.” Daar wag immers altyd iets nuuts om elke hoek en draai. Maar ons weet almal: dis nie altyd so maklik nie.
Die Teenmiddel: Selfliefde
Wat sou hierdie reis deur ‘n ‘tekort aan liefde’ makliker maak? Ek glo, net soos Dr. Love, dat die antwoord in selfliefde lê. Dit is die een liefde wat nooit in jou gesig teruggegooi sal word nie.
Wanneer jy jouself genoeg liefhet, mors jy nie kosbare tyd op mense wat jou nie aanvaar of waardeer presies net soos jy is nie. Jy leer om jou omgee net met diegene te deel wat dit koester.
Ons is aan die moederskoot geleer: “Behandel mense soos jy behandel wil word.” Ek het reeds in my dertigs geleer daar steek bitter min waarheid daarin. Die deursnee mens gee dikwels nie om hoe ek behandel wil word nie; hulle behandel my volgens húl eie waardes en hoe húl menswees aanmekaar gesit is. Geen hoeveelheid “draai van die ander wang” of mense-plesier (people pleasing) gaan húlle laat verander nie.
Jy Besluit oor die Reaksie
Net ék kan besluit hoe ek reageer op iemand wat my soos ‘n tweedeklas-burger behandel. As dit ‘n doring in jou vlees is (soos vir my), is die keuse eenvoudig: praat met die persoon, of verwyder jouself stil-stil uit hul lewe. Ek het op die harde manier geleer dat my eie geselskap op die ou end die beste is.
Beteken dit ek skeer almal oor dieselfde kam? Glad nie!
Ek sien elke persoon wat ek ontmoet as ‘n potensiële vriend. Ek maak my arms, kop en hart oop vir ‘n ieder en ‘n elk. Maar wanneer hulle vir my wys dat hulle nie my onvoorwaardelike vriendskap verdien nie, is niks kouer as my koue skouer nie. Of my rug wat wegstap nie.
Rupi Kaur skryf:
“How you love yourself is how you teach others to love you.”
Maar selfs dit is nie altyd waar nie. Soms probeer jy hulle “leer”, maar hulle is onleerbaar (unteachable). Dan moet jy die bande knip.
Die Grootste Bevryding
Die grootste bevryding in die lewe is wanneer jy weet hoe om aan jouself te behoort. Voor in elke dagboek skryf ek altyd:
“I am mine - before I am ever anyone else’s.”
I belong to me, myself and I! Wanneer jy so leef, is jy in staat om jouself die liefde te gee waarna jy smag: die aanvaarding, die waardering, kwaliteit bo kwantiteit. Dit is die eerste stap na geluk.
Dit bring my by Oscar Wilde, die seun van Ierland, wat gesê het:
“To love oneself is the beginning of a lifelong romance.”
Daarop sê ek Amen en Sela. So be it - en laat ons net hier pause & ponder.




So waar né, ek moes net jare vat om te besef ek kan myself Lief hê. Was nie maklik nie. Maar ek Lief jou darrem . 💕