Hulle sê ons los voetspore in die sand, maar die gety kom in, branders rol oor die sand, en ons voetspore is daarmee heen.
Maar die mense wat vir ons lief is, los vingerafdrukke op die hart - onuitwisbaar, selfs na twintig jaar.
Hoe gepas is dit nie! Vandag merk 20 jaar op my kalender wat ek elke dag begin sonder ‘n goeie-more-oproep na my dierbare Papa toe, en sonder sy oproep elke aand om goodnight te sê.
En steeds, elke dag, hoor ek sy stem, sien ek hom voor my, voel ek hom in my siel - want ons was baie close. Hy was my beste vriend. En vir die 5 jaar na my ma se dood, was ons nog nader aan mekaar.
Hy het moerse hartspore in my menswees gelos. Onsigbare, onuitwisbare spore in my siel. Diep afdrukke van liefde, woorde, lag en herinneringe wat vir altyd deel van my wese geword het - wat ‘n groot invloed op my lewe gehad het, steeds het, en altyd sal hê.
Hier is ‘n paar van daardie onsigbare vinger-afrdukke op my lewe:
1. Hy het my geleer om nuuskierig te wees, en om nooit op te hou om iets nuuts te leer of te weet nie.
Om nie alles vir soetkoek op te eet nie, maar dinge vir myself te ondersoek. My eie mind op te maak. Op nooit op te hou leer nie - hy het altyd gesê dit is iets wat geen niks en niemand ooit van jou kan steel nie. Jou kennis. Dit wat jy weet. Daarvoor is ek oneindig dankbaar. Ek vermoed dit is hoekom ek so lekker kry elke keer wat Austin nuuskierig is vir inligting, of wil weet hoe ‘n mens dit of dat doen. Vandag is ek die een wat hom leer dat nuuskierigheid een van die maniere is waarop ons slimmer word. Net soos Einstein gesê het, “I have no special talents. I am only passionately curious.” Ek sien daardie selfde ‘holy curiosity’ van my in Austin. En ek is dankbaar dat ek hier is om hom met van sy vrae en soeke te help.
2. Hy het my geleer om te luister.
“Being listened to feels so much like being loved that people can scarcely tell the difference.” (David W. Augsburge)
Ek vermoed dit is omdat my pa so vroeg blind geword het dat hy net altyd anders was as my pelle se pa’s. Hy het tyd gemaak om na jou te luister. Hy het nie ingetjip nie. Hy was nie besig om antwoorde te formuleer dat hy op die ou end nie gehoor het wat jy gesê het nie. Dit het my altyd laat voel asof ek sy tyd en aandag werd is. Ek het baie by my pa geleer as gevolg van hoe sy lewe uitgedraai het - ek het baie vroeg in my lewe geleer dat daar ‘n rede is vir twee ore en net een tong.
“The word listen contains the same letters as the word silent.” (Alfred Brendel)
3. Ek en hy het baie saam gelag - hardop!
“Laughter is wine for the soul - laughter soft, or loud and deep, tinged through with seriousness - the hilarious declaration made by man that life is worth living.” (Sean O’Casey)
Sy humor was droog - maar dit het jou laat lag dat die trane loop. Teen die einde van sy lewe was hy moeg, en ek onthou die laaste keer wat ek by hom was. Ek het langs hom op die bed gelê, in sy arm, soos wat ek vir so baie jare gedoen het. Ons het gepraat oor ons lewens. En hy sou skielik stop en sê ons moet ‘n gebed doen. Hy sou een doen, die volgende keer het hy my gevra om een te doen: en elke keer was dit ‘n pleidooi dat die Here hom tog genadig moet wees en hom kom haal. Hy was moeg. Maar daardie dag het ons steeds kans gehad om hartlik saam te lag oor alles wat ons onthou het.
4. Sy liefde.
Daar was tye in my lewe wat ek gewonder het hoe lief my ma my gehad het, maar ek het nooit gewonder oor hoe lief my pa my gehad het nie. Daar was nooit enige twyfel in my hart of verstand dat hy my nie onvoorwaardelik liefgehad het nie. En dis daardie liefde wat ek steeds vandag nog, selfs na 20 jaar, voel - asof ek vandag by hom was en ons diep gesels en lekker gelag het. Sy raad en wysheid sal my altyd bybly. Sy omgee en die feit dat hy berge sou probeer versit vir my, sal ek nooit vergeet nie.
Wat my bring by laaste en verseker nie die minste nie. Sy legacy.
Maya Angelou het geglo dat mense kon vergeet wat jy gesê het, of vergeet wat jy gedoen het, maar dat hulle nooit sou kon vergeet hoe jy hulle laat voel het nie. Ek glo dit ook.
My pa het ook. Ek glo hy het nooit die hoogtes bereik wat hy kon en wou nie. Sy drome is op 47 verpletter. ‘n Belowende loopbaan as ‘n mediese dokter is verruil vir ‘n dorpie aan die suidste punt van Afrika. Daar het sy nalatenskap met sy hande begin. My tafel. Opvou-stoeltjies. Loopring en eetstoeltjie toe my oudste gebore is. Trollies. Ronde tafeltjies. Lessenare vir sy kleinkinders. Beddens vir my hele huis. Riempie-bankies vir al sy kinders. Toe ons nog die kafee gehad het, in daardie eerste 3 jaar na Pretoria, alles wat ons lewe in die kafee makliker gemaak het. Houers vir eiers. Houers vir cone-roomyse vir die vakansiegangers. En later, toe hulle dorp toe getrek het, chutneys. My ma was sy oë maar sy hande het die res gedoen.
Hy het meubels gemaak sonder YouTube. Hy het gedink, geteken en geskep.
Daar is wyse woorde wat sê, “What we do for ourselves dies with us. What we do for others and the world remains and is immortal.”
Ek is wie ek is vandag as gevolg van my pa. En ek maak dit my mission in life om vir die regte redes onthou te word. Ek skryf dit. Ek maak die keuses. Ek leef dit.
And as always, with NO REGRETS!




Ongelooflik beautiful, x