Woensdag vertrek die hele familie Hawaii toe.
En ek? Ek bly agter met ‘n moerse opgewondenheid in my.
Ek voel soos daardie kleintyd dogtertjie in my wat met ‘n paar sente in my hand by die kafee instap, met my oog en hart op die lucky packets.
Onthou jy nog die lucky packets uit ons kinderdae? Ek kan nie presies onthou hoeveel dit gekos het nie, maar ek weet een was duurder as die ander. Ek vermoed ‘n beter speelding, of meer sweets - who knows, and quite frankly, soos my maaikie altyd sê, “Who care?”
Dit het alles gegaan oor wat op jou gewag het.
Eerste van alles het jy jou sintuie ingespan - die voel-toets:
Niemand het ‘n lucky packet sommer van die rak af gepluk nie - daar was ‘n hele ritueel. Jy skud die pakkies eers saggies, en bevoel die pakkie saggies met jou vingers - jy wil nou nie die sakkie beskadig nie. Is dit ‘n klein of ‘n groot speelding? Dan kom die wonder en ponder, “Is dit wat ek dink dit is?”
En dan, as jy tevrede is met jou gut-feeling, betaal jy en jy straal behoorlik, want binnekort gaan jou hele wêreld verander.
Die oopskeur, die hand insteek en uithaal - verwondering of teleurstelling in die speelding - ‘n fluitjie, ‘n ringetjie, ‘n tolletjie, ‘n diertjie. Onthou jy nog daardie klein klik-klak plastiek paddatjies? Die metaalplaatjie onderaan wat jy druk om daardie harde klik-klak geluid te maak?
Of die vissie wat so dun is, dit is heel deurskynend - maar as dit op jou palm lê, kon dit jou fortuin vir jou vertel. As die stert gekrul het, het dit beteken jy gaan ryk word, of verlief raak!
Dan kom die lekkerte. Ek onthou die sorbet, of shir-bet soos ons dit genoem het, die strooitjie - die opsuig van pure sparkles. ‘n Paar toffies, of ‘n kougom. Die kougom was gou uitgekou. Die toffies het nooit lank gehou nie. My vreugde het ek altyd in die sherbet gevind.
Maar dit was nooit regtig die waarde van die inhoud wat saak gemaak het nie - dit was after all goedkoop lekkers en die plastiek speelding was nooit iets besonders nie.
Dit was die possibilities - daardie paar sekondes voordat jy die sakkie oopmaak. Daardie opgewondenheid. Die wonder - wat gaan dit wees, ‘n os of ‘n bees ... lol
“Ek wonder wat ek dié keer gaan kry?”
Vandag het ek besef dit is hoe ek oor die volgende drie weke voel. Ek weet nie wat wag nie. Ek weet nie hoe my dae gaan ontvou nie. Sommige dae gaan sherbet wees. Ander dae gaan gou uitgekou wees - maar ek gee nie om nie - want my grootste speelding uit hierdie lucky packet gaan vryheid wees, en tyd vir ander dinge.
Die jacuzzi wag weer op my - daar gaan ek lekker sit en droom, terwyl ek na my Spotify playlists luister. Lekker lank - nie net wanneer ek gou die winkel toe en terug doen nie.
En met myself gesels terwyl ek eekhorinkies dophou soos hulle bome op en af en kruis en dwars oor groen gras.
Aan die anderkant van langsaan wag die swembad op my - ek sien uit na die water - as ek moeg geswem is, kan ek net dryf en dink.
Vir die laaste twee maande was ek juffrou wat lesse voorberei het vir two young minds. Hulle het alles oor Hawaii geleer - ook woorde - iets wat my eie siel geweldig bekoor het - daar is iets aan Hawaii se manier van praat wat ‘n ritme wakker maak en my opgewonde maak oor die lewe.
Ek gaan tyd kry om weer nuuskierig te raak oor my eie lewe. Oor my eie planne en drome. Ek kan die idees wat al vir maande lank in my kop rondloop, kans gee ‘to state their case’ en om planne te word - iets wat ek kan tackle in Augustus, wanneer alles weer back to normal sal wees.
Verstaan jy hoekom dit vandag vir my voel asof ek met hierdie moerse groot, onoopgemaakte lucky packet in my hand staan?
Ek weet nie presies wat daarin is nie. Maar ek weet daar is iets. Miskien net die herinnering dat die lewe nog lank nie klaar is om my te verras nie.
Ons spandeer soveel van ons lewe om te probeer voorspel wat volgende gaan gebeur.
Miskien lê die grootste vreugde juis daarin om nie te weet nie.
Die magic lê miskien daarin om stadig die nietjie los te maak.
Om een ding op ‘n slag uit te haal.
En elke keer te glimlag en te sê:
“Ag, kyk net wat het die lewe hierdie keer vir my ingepak.”
Ek sien uit na my volgende drie weke.
Want vir die eerste keer in lank voel dit nie soos wagtyd nie.Dit voel soos ‘n hedendaagse en moderne weergawe van die lucky packet wat my so bekoor het in my kindertyd.



