Die Skoen, die Susters en die Swaarkry.
"A dream is a wish your hearts makes." (Cinderella)
Ek vermoed elke dogtertjie wat al die storie van Aspoestertjie gehoor het, het gewens hulle kon ook ‘n fairy godmother hê. Haar storie was een van hoop: ‘n uitsien na ‘n beter lewe wanneer die as te diep begin lê het.
Sy was beeldskoon, maar skoonheid is selde ‘n skild. Inteendeel, dit het haar ‘n teiken gemaak vir ‘n aaklige stiefma en twee nare stiefsusters wat verby jaloers was. Haar dae het bestaan uit skoonmaak, kook en in die kole krap. Ek vermoed sy het menige dag soos Job in sak en as gesit en huil, terwyl die man wat haar moes beskerm - haar eie pa - totaal unaware was. Of dalk net gerieflik blind. Ignorance is bliss, of iets soos daai, terwyl hy geweier het om sy eie vlees en bloed se pyn raak te sien.
Toe kom die bal. Kyk, daai drie stief-gedoentes het omtrent teen mekaar gekompeteer vir die mooiste rok, die langste naels en die valsste wimpers. Opgetof met fieterjasies en grimering is hulle die huis uit met great expectations om die Prins se oog te vang.
Aspoestertjie het in haar flarde vodde by die kaggel gesit en trane afvee. Sy het geweet so ’n kans sal nooit haar kant toe kom nie. Sy het na haar ma verlang - daardie ma wie se plek so vinnig gevul moes word “ter wille van die kind.” Ja, right.
Maar haar ma het gesorg dat daar iemand was om na haar om te sien. So ontmoet sy haar Goeie Towerfee. Met die swaai van ‘n towerstaf word ‘n pampoen ‘n koets, muise word wit perde, en Aspoestertjie self word ‘n droom in ‘n droomrok, met die fynste glas skoentjies aan haar voete.
Die voorwaarde? Wees terug voor die twaalfde slag van die klok, anders gaan jy bedremmeld daarvan af kom.
Natuurlik het die Prins net ogies vir haar gehad. Hy het met niemand anders gedans nie; hy het geweet hy het sy Prinses gevind. Maar tyd is ‘n dief, en toe die klok begin slaan, moes sy laat waai. In die proses het een glasskoentjie op die trappe agtergebly - ’n deeltjie van die droom wat in die regte wêreld agtergebly het.
Die Prins het hoog en laag gesweer hy sal haar vind. Hy het deur die village begin klop, deur tot deur. Die stiefsusters het selfs hulle langste tone afgekap om in daardie skoen te pas - hulle was bereid om hulleself te vermink vir ‘n titel. Maar die Prins het aangedring op Aspoestertjie se voet.
En daar pas dit soos ‘n handskoen.
Geen gespook, geen tone afkap nie. Net ‘n perfekte pas.
Haar pa het homself probeer wegsteek uit skaamte, maar sy het nie die limelight gesoek vir wraak nie. Sy het geweet hierdie deel van haar lewe is vir altyd verby. Sy het vorentoe gekyk.
Niemand vertel ons ooit dat great expectations dikwels net sorg vir great disappointments nie. Ons doen alles in ons vermoë om die perfekte ma, vrou, dogter en sakevrou te wees - die glansryke huishoudster wat alles beheer. Maar dit is dikwels all for nothing, want dit is eenvoudig nie menslik moontlik nie.
Aspoestertjie is ons voorbeeld: sy het geen verwagtinge gehad nie. Sy het nie eers geweet sy het ‘n peetma nie. Alles was ‘n verrassing en ‘n bonus. Die rok, die koets, die Prins.
Soms lê ons geluk nie in die dinge waarvoor ons moet baklei of bloei nie, maar in daardie oomblik wanneer die noodlot, of magic, intree en die skoen net skielik perfek pas.
My vraag aan julle:
As jy vandag jou eie towerfee voor jou kon hê - nie om jou lewe oor te neem nie, maar om net één ding met haar towerstaf aan te raak - wat sou dit wees?
Is dit ‘n verandering in jou omstandighede?
Is dit die genesing van ‘n ou wond?
Of is dit dalk net die vermoë om op te hou probeer om die “skoen” te dwing, en te wag vir die een wat vir jou gemaak is?
As jy al ooit jou eie Aspoestertjie-oomblik gehad het - daardie oomblik waar dinge net “gepas” het sonder dat jy jou tone hoef af te kap - is jy lus om dit met my te deel in die kommentaar?
“Have courage and be kind. Where there is kindness, there is goodness. And when there is goodness, there is magic.” (Cinderella)



