Julle sal nie glo hoe upset ek was toe ek besef dat ek die hele solstice gemis het nie. Die wat my goed ken, weet hoe ek dit altyd gevier het daar in Ierland. My dark side cackle en terg: “Ja, terwyl jy jouself verdedig het daar in die loopgrawe van jou verkoue, het die sonstilstand gekom en gegaan, sonder enige trompetgeskal.” Al antwoord wat ek het vir haar het, “You win some, and you lose some.” ☀️
🕯️ Die Stilstand: Rus is Rigting
Maar hoe meer ek daaraan dink, hoe meer besef ek wat ‘n beautiful tyd dit vir my was om ‘stil te wees’ – wat kop, hart en lyf aanbetref. Wanneer jy een tissueboksie na die ander leeg blaas, is daar nie baie tyd vir dink, praat of doen nie - en ek dink dit was broodnodig. Rus is belangriker as wat ons dit soms vir onsself uitmaak om te wees.
❄️ Wintersonstilstand: Die draai na binne
Vir die van julle wat in die Suidelike Halfrond leef en beef, was dit nou die langste nag en die kortste dag. Dit is koud. Die natuur is kaal en skraal, en alles beweeg in slow motion. Dit is die perfekte tyd vir ‘n bietjie introspeksie – en sommer om jouself toe te kokon. Net soos saad onder die koue grond lê en wag vir die regte tyd, is hierdie ‘n tyd vir die menslike siel om te rus, te wonder en te ponder.
Hoe hanteer ons die donker stilte? Hoe gaan ons aan met alles in ons kop en hart? Ek dink doodeenvoudig met die wete dat die lig van hierdie oomblik af elke dag stadig maar seker besig is om terug te kom. ☀️
Vir die wat egter meer as net wil sit en wag, is hier my gunsteling rituele uit die ou dae om die hitte aan die gang te hou:
Steek kerse aan: Laat die son weet, “Jy is meer as welkom om langer te kuier.”
Kook stadig: Maak ryk kosse – regte, egte boerekos en bredies. En ‘n lekker poeding vir agterna.
Raak stil by die kaggelvuur: Besin oor wat jy in hierdie donker maande wil agterlaat. Jy wil immers veerlig wees wanneer jy die lig weer verwelkom.
🔥 Somerstilstand: Die viering van oorvloed
Aan die ander kant van die ewenaar, in die Noordelike Halfrond, was dit weer die kortste nag en die langste dag. Dit kom wel nie naby Ierland se yslike lang dae nie – waar die son al net na vier in die oggend kop uitsteek en dan kuier tot net na elf in die aand (wanneer dit lyk soos sterk skemer in my Afrikaans!).
Hier gaan dit oor uiterste energie, passie, vrugbaarheid en die natuur wat in volle bloei is. Dit is die toppunt van die son se krag voordat die dae weer begin korter word. En die jongmense se FOMO - iets wat ons mos nooit in ons jongdae geken het nie - the fear of missing out. Want ons het net nie genoeg geweet om te besef daar was iets waarop ons kon uitmis nie ☀️
Ek sal nou nie presies weet hoe die Amerikaners met hulle rooi keppies en vlaggies hierdie solstice vier nie, maar ek weet ek sou dit saam met die free spirits wou deurbring. Ek sien al daardie Midsummer-rituele voor my: blommekranse in die hare, buitelug-feeste, bonfires wat tot laatnag brand, en net die suiwer vreugde van being fully alive.
“In the depth of winter, I finally learned that within me there lay an invincible summer.” (Albert Camus)
“On this longest day of the year, may you remember that the light you seek also lives within you."
🌗 Die Balans van die Siel
Op die ou end het ek ‘n baie gebalanseerde Solstice gehad – en heeltemal onbeplan.
My liggaam is in die Suidelike Halfrond-energie ingedwing deur die Snotsiekte, wat verpligte rus, donkerte en alleenheid beteken het. Maar in my gedagtes kon ek imagine hoe die res van die Noordelike Halfrond om vreugdevure gedans het.
Ons almal het altyd beide nodig, dink ek: die somer se vuur om skeppend te leef, kreatief te dink en te doen; en die winter se donkerte om te herstel en te reset.
Soms mis ‘n mens die presiese datum op die kalender, maar jou siel vang steeds die seisoen se draai. ☀️



