Dr Love het geglo, “But risks must be taken because the greatest risk in life is to risk nothing.”
Ten spyte van wat die wêreld en die mense om ons dink, het ek en jy nodig om te lag. Ons het nodig om te huil. Ons het nodig om te hoop en lief te hê - selfs al kry ons nie altyd daardie liefde terug nie. Ons het drome en idees nodig, maar ons hoef dit nie met Jan Alleman te deel nie. Mense kan soms lelik wees en kies om op jou drome en jou “battery” te piepie.
Wat gebeur met ons as ons kies om onsself só veilig te hou dat ons ophou lewe?
Ons beland in ’n groef wat vinnig donkerder word, totdat dit later soos ’n graf voel. Dit is ‘n bestaan, nie ‘n lewe nie. As ons besluit om nooit iets te waag nie uit vrees vir mislukking, leer ons nooit nie. Ons eindig op met ’n lewe sonder betekenis of doel. As ons kies om in daardie donker groef te bly, mis ons die skoonheid om ons - die magical side of life, selfs al kyk ons daarna deur trane.
Ek wil nie aan die einde van my pad staan met niks om te wys nie. Ek wil iets agterlaat wanneer ek hierdie planeet verlaat. Ek wil hê mense moet my onthou as iemand wat bereid was om ander te aanvaar net soos hulle is; om jou te waardeer, ongeag jou velkleur of die taal wat jy praat.
Ek wil onthou word as iemand wat meer geluister as gepraat het. Ons almal smag daarna om bloot gehoor te word - sonder dat iemand klaar ’n antwoord reg het of jou in die rede val.
Ek wil aanhou leer tot aan die einde. Dit kan ek nie doen as ek altyd veilig speel nie. Ek wil groei en verander, en dit verg die moed om dinge anders te doen as die geslagte voor my. Ek weier om bang te wees vir dinge wat my siel laat groei. Ek wil hê my siel moet dans deur lief, leed en lewe!
Op my “grafsteen” - wat ek nooit gaan hê nie, want my as moet teruggaan na die Heelal waar ek vandaan kom - moet staan: NO REGRETS. Dit is my lewensmotto. Ek wil nie spyt wees omdat ek te bang was om te probeer en sodoende met leë hande opgeëindig het na al my rondtes om die son nie.
Slegs diegene met genoeg moed vind uit hoe ver hulle kan gaan. As jy probeer en sukses behaal, is jy gelukkig. As jy misluk, word jy wys. In my oë is dit ’n wen-wen situasie. As jy nie gewillig is om die ongewone te waag nie, sal jy moet tevrede wees met ’n doodgewone lewe.
“I’ll take risk over regret any day.”




So waar wat jy hier skrywe, en ek stem saam met jou oor die ander dinge.