Leo Tolstoy is in 1828 gebore, maar sy woorde leef vandag nog in menige kop en hart. Sy insigte is van so ’n aard dat ek gereeld my inspirasie daar vind; dit word mottos wat my dra, soos hierdie een:
“The two most powerful warriors are patience and time.”
Daardie woorde lê diep in my psige. Dit is balsem vir my siel op die dae wanneer die lewe skaaf. Maar dan is daar hierdie een wat my soms teen die bors stuit:
“If you want to be happy, be.”
“Makliker gesê as gedaan, Leo,” dink ek dan. Want hoeveel maal besef ons nie eers ons is besig om te sink nie? Of dat die lig stadig maar seker besig is om dowwer te raak nie?
Jy weet presies waarvan ek praat as ek sê: “Die verskil tussen ’n groef en ’n graf is slegs die diepte.” Ons was almal al daar.
Wanneer ons in daardie donker gat sit, herkou ons aan alles wat verkeerd geloop het. Ons hoop en bid dat die omstandighede net één maal vlot sal verloop - want dán, glo ons, sal ons gelukkig wees. Maar ons is wys genoeg om te weet dit is nie die volle waarheid nie. Die desperaatheid dwing ons om dieper te kyk na Tolstoy se ander waarheid:
“Everyone thinks of changing the world, but no one thinks of changing himself.”
En daar lê die knoop. Ons vermoed selde die probleem lê binne ons; dit is mos altyd die wêreld om ons wat moet regskuif. Maar vandag herinner Leo my en jou aan iets anders:
“True life is lived when tiny changes occur.”
Dit was ’n beginsel wat hy sy hele lewe lank toegepas het. Die skilder Karl Bryullov het glo vir ’n student gesê dat kuns begin waar daardie “tiny bit” kop uitsteek - daardie eerste spatsel verf is die beginpunt van ’n meesterstuk.
Tolstoy was gefokus op die klein kop-verskuiwings; die kleinste keuses wat op die ou end ’n hele lewenspad kan definieer. Hy was mens genoeg om te besef dat radikale, oornag-verandering onmoontlik en onvolhoubaar is. Hy het gekies om elke dag net 1% beter te doen. Hy het nie in die strik van een massiewe, onhaalbare omwenteling getrap nie. Stadig maar seker, dag na dag, het hy sy lewe herbou.
Wat het jý nodig om vandag te verander? Waar wil jy beter doen as wat jy tans doen? Waarmee worstel jy, en wat is die kleinste moontlike skuif - daardie een aks links of regs - wat jy kan maak om jou koers te verander?
Onthou wat Einstein gesê het: “We cannot solve our problems with the same thinking we used to create them.”
Dit begin alles by wat jy dink, hoe jy kyk, en wat jy daaromtrent doen. Want die harde waarheid bly staan:
Deur niks te verander nie, verander niks nie.



