Ek het oor die laaste tien jaar een ding geleer: dit verg groot moed om die swaar en die lig van die lewe so saam-saam in een rugsak te dra - die verlang na kind en kleinkind, en die verlange na almal wat leë stoele in my lewe gelos het.
Verlange gaan selde oor die lyne op ‘n kaart, maar altyd oor die lywe om die tafel. Ek vermoed ons verlang nie altyd noodwendig na Ouma Marie se hoenderpastei en soet patats soveel as wat ons die gelag en saamwees in die kombuis mis wanneer sy besig was om die deeg uit te rol met haar klein, pofferige handjies nie - of die klein bolletjies soet koekiedeeg wat sy vir die kleingoed gegee het, of die uitlek van die bak net omdat daar nog genoeg tjoklit was vir ‘n ordentlike happie.
Dit is die reuk van watookal in die oond is wat die hele huis vul en jou vir altyd bind aan die mense met wie jy daardie oomblikke gedeel het.
Is kos nie maar altyd die ding wat ons emosies raak en herinneringe losmaak nie? Die hap aan een van haar klein koeksistertjies. Die lekkerte van ‘n vars boereworsrolletjie met tamatie-en-uie-smoor, en daardie kampioen-boerewors van die laaste paar jaar.
Kos is soos ‘n tydmasjien wat ons altyd terugvat na ‘n spesifieke Kersfees, familiefees, of elke Sondag se rys, vleis, aartappels en twee groentes (gewoonlik wortels en groenbone, maar gekook met uie, aartappels en bacon). En dan - die gekuier om die tafel nadat die borde wasbak toe is en die tonge losraak en ons later lag dat die trane loop.
Ek mis biltong en droëwors - en daardie reuk van koljander wanneer jy by ‘n regte slaghuis instap. Die jerky wat die Amerikaners hier verkoop proe asof dit vir honde bedoel is!
Hier ken hulle nie braaibroodjies nie. Ek mis dit. Die goudbruin, effens swart-gebrande rande, met die perfekte kombinasie van gesmelte kaas, tamatie, uie en ‘n bietjie blatjang.
Geen skaaptjop, nie in Ierland nie en ook nie hier nie, smaak soos ‘n Suid-Afrikaanse tjoppie nie. Met eenvoudige braaisout. That’s it!
Ek is nie vreeslik mal oor soetgoed nie, maar jissie, ek mis koeksisters - so yskoud uit die Tupperware-bak, deurdrenk van die stroop wat jou omtrent agter die ore skiet as jy ‘n happie vat!
Ek mis beskuit. Nie Ouma-beskuit uit ‘n boks nie - regte, egte beskuit saam met my oggendkoffie. Wat jy skuinsweg indruk tot dit nét sag genoeg is om te hap, maar nie so sag dat dit afbreek and in jou koffie beland nie. Niks is vir my erger as stukke beskuit in my koffie nie. En ja, ek haat die krummels aan die onderkant, maar ek hou op met drink wanneer dit amper daar is.
Nola mayonnaise het enigiets lekkerder gemaak. Mrs. Ball’s chutney (dankie tog dit is hier te koop!) het nie ‘n gelyke enige plek in die wêreld nie.
Creme Soda, die “groen ambulans”, se reuk wat jou altyd aan jou jongmens-jare laat dink. Veral as jy ‘n float daarvan gemaak het - niks kan daarby kers vashou nie. En onthou jy nog Stoney Gemmerbier? Op ‘n warm dag was niks lekkerder as dit en ‘n yskoue Iron Brew nog so uit die kleine botteltjies uit nie.
En dan is daar altyd die mense wat saam met jou om ‘n tafel gesit het. Elke familie-bymekaarkom was ‘n fees. Daardie oomblikke en mense het my gevorm. En selfs al vaar my skippie nogsteeds in godsverlate en vreemde waters, is my skatkis propvol en ryk van al my onthou.
Wanneer ek my oë toemaak, onthou ek almal, en wanneer ek dit oopmaak, sien ek net leë stoele - maar ek is altyd dankbaar vir die tye wat ons saam gehad het.
In my boek is dit reuke en geure wat my in ‘n kwessie van sekondes kan terugvat na van my kosbaarste memories - na die mense vir wie ek lief is maar wat ver van my is; die mense wat nie meer hier is nie, maar altyd in my hart is, en die plekke en oomblikke wat ek onthou as van die gelukkigste in my lewe.
Mag ons nooit vergeet om vir mekaar om te gee nie. Mag ons almal so lewe dat ons geen spyt, of verwyt, het wat te laat kom nie.
Tot volgende keer.




Ai Annette jy praat so uit my mond uit vandag. Ek voel vandag ook so pé verlang amper na iemand wat ek nie ken nie lol. Na al die gisters se mooi en lekker. Xx