Ek dink baie aan die rippels in ons lewens.
As my pa nie blind geword en medies ongeskik verklaar is nie, sou ek waarskynlik in Pretoria grootgeword het en nie op L’Agulhas nie.
As ek Stellenbosch toe is, waar my plek in die koshuis en op kampus reeds vir my gewag het, sou ek ‘n onderwyseres op ‘n klein plattelandse dorpie geword het wat Tale gee en netbal afrig.
Toe kies ek die Weermag. Daar ontmoet ek my eerste beste pel én die pa van my twee meisiekinders.
Een besluit. Een klippie. En ‘n hele nuwe stel rippels.
Ek dink ons onderskat dikwels die krag van ‘n enkele keuse.
Elke besluit wat ons neem, is soos ‘n klippie wat jy in ‘n stil dam gooi. Die aanvanklike plons is die onmiddellike gevolg, maar die rimpelings wat daarna ontstaan, versprei veel verder as wat ons ooit kan sien.
Soms is dit die kleinste veranderinge wat die grootste verskil maak.
Om vyf minute vroeër op te staan.
Om iemand in die hysbak te groet.
Om ‘n ander roete werk toe te ry.
Om “ja” te sê waar jy gewoonlik “nee” sou sê.
Daardie oënskynlik onbenullige oomblik kan die verloop van jou hele dag verander – en selfs die mense wat jy ontmoet.
Gister was vir my so ‘n voorbeeld.
Ek en Hetta het vir byna twee uur lank geredekawel.
Moet ek vandag my hare laat sny, of môre?
Moet ek teruggaan na dieselfde salon, waar hulle nog nooit my hare presies geknip het soos ek daarvan hou nie?
Of moet ek iemand anders probeer wat drie keer duurder is, maar miskien met “magical scissors” werk?
Ek besluit toe om tog terug te gaan. Daar ontmoet ek vir Gwendolyn.
Sy luister mooi terwyl ek verduidelik wat ek soek: slierte (hoe ver-engels ‘n mens daardie woord? ‘n bietjie messy, croppy - ‘n korter styl wat ek sommer met my vingers kan droogmaak en wat terselfdertyd my kaalkop ‘n bietjie verbloem.
Terwyl sy knip, begin ons gesels.
Sy wil my storie hoor.
Waar kom ek vandaan?
Wat doen ek?
Waarheen is ek op pad?
Ek vertel haar.
Toe vertel sý vir my dat sy dink ons twee behoort mekaar beter te leer ken, omdat sy met amper dieselfde soort werk en idees besig is.
Sy gee vir my haar selfoonnommer. Toe ek by die huis kom, stuur ek vir haar ‘n boodskap. Sy stuur vir my ‘n link na haar program.
En sowaar as wragtag - sy gebruik ook ‘n lotusblom - net soos ek destyds met my School of Thought in Ierland.
Toeval?
Me finks not.
Ander mense se klippies in jóú dam
Ons lewens word net so dikwels gevorm deur die keuses wat ánder mense gemaak het - lank voordat ons oud genoeg was om ons eie besluite te neem.
Soms selfs voordat ons gebore is.
As my oudste dogter nie besluit het om Suid-Afrika vir Australië te verruil nie, en Richie nie nege weke later sy laaste asem uitgeblaas het nie, sou ek waarskynlik nooit my hart op Ierland verloor het nie.
Terwyl ek besig was om al daardie hartseer te verwerk, vertel my jongste my hy wil my in Amerika saam met hom hê oor ‘n paar jaar - sodat sy kleingoed my kan leer ken soos die ander kleinkinders my leer ken het.
Nog klippies. Nog rippels. Nog paaie wat niemand vooraf kon beplan nie.
Agter die stuur
Ek sien die lewe dikwels soos ‘n roadtrip. Ons almal sit agter die stuur van ons eie voertuig, seatbelt aan. Ons het geen beheer oor die toestand van die pad, die wind, die reën of die ander bestuurders nie.
Ons beheer net ons eie stuurwiel.
Waarheen ons wil gaan.
Hoe vinnig ons ry.
Watter afdraai ons kies.
Maar dan gebeur die lewe. Iemand anders se swak besluit laat ons uitswaai. ‘n Pap wiel stop ons onverwags. Die enjin hoes. ‘n Storm dwing ons om van koers te verander.
En tog ...
Al kan ons nie beheer wat met ons gebeur nie, het ons altyd ‘n keuse oor hóé ons daarop reageer.
“Choices are like stones cast into the waters of life, creating ripples that extend far beyond what we can see.”
Dit bring my by wat ek eintlik wil sê.
Die keuses wat ek en jy vandag maak, bepaal nie net óns môre nie.
Dit raak ook die mense wat ons vandag ontmoet.
Die mense wat ons liefhet.
Die mense wat ons nooit weer sal sien nie.
En selfs mense wat ons nooit sal weet deur ons aangeraak is nie.
Elke besluit is ‘n klippie. Elke woord. Elke glimlag. Elke daad van vriendelikheid. Elke keer wat jy kies om sagter eerder as harder te wees.
Laat die klippies wat jy vandag laat val, rippels maak wat van die wêreld – al is dit net ‘n klein hoekie daarvan – ‘n beter plek sal maak as wat dit was voordat jou klippie die water geraak het.
En moet nooit vergeet nie - daardie dam sluit jóú eie lewe ook in.
Want geen keuse vind ooit in isolasie plaas nie.
“Just as ripples spread out when a single pebble is dropped into water, the actions of individuals can have far-reaching effects.”




Wow dit is nou mooi gesê , ja ons weet nie aldag hoekom en waarom nie. Maar hoe ouer ons word besef ons dit was eintlik beter soos dit uitgewerk het.