Elvis & die Evangelie.
“Hulle het gesê sy heupe is die einde van beskawing. Vir my was dit die begin van myself.”
Ek weet nie of dit so was op jóú dorp nie, maar op ons dorp - en veral oor Pa predikant was - het die tannies mos gedink die pastorie is die voorportaal van die hemel.
Hulle het gedurig gekom vir ’n koppie rooibostee, maar eintlik was dit uit pure nuuskierigheid en ’n lus vir skinder.
Tannie Mietie was die grootste skinderbek van almal, maar sy het getrou die kerkbank warm gesit, elke Sondag, soos dit ’n goeie Fariseër betaam.
Sy het haarself gesien as ’n vrou van status. Op ons dorp, as jou man enigsins belangrik was - soos die magistraat, die dokter of die dominee - dan het jy elke dag kouse gedra, al was dit veertig grade in die skadu van die kerktoring.
Die ding is, Tannie Mietie se man het die platewinkel gehad. Nou nie rêrig ’n man met ’n titel nie. Maar hy was ’n goeie mens met die sagste stem. Nooit ’n lelike woord te sê gehad oor enigiets of enigiemand nie.
Gereeld, as hy en sy saam was, het ek hom ongeduldig hoor sê:
“Vrou, asseblief… genoeg!”
In my boek het hy status gehad, want hy kon ’n geheim hou soos niemand anders nie.
Ek het met my sakgeld elke week by hom ’n plaat gaan koop. As dit ’n seven single was, het dit my 75c gekos. ’n LP was 1.99, en ’n double LP ’n bietjie duurder; dan moes ek dit lay-buy. Ek het R1 sakgeld gekry ‘n week.
Dis hoe dit gekom het dat ek ’n kortspeelplaat van Elvis in my versameling gehad het. Ek het geweet Oom Basjan sou nie ’n woord sê nie. My geheim was veilig.
Almal het geweet wie Elvis is. Selfs op ons dorp.
Die seuns wou almal ’n Elvis wees. Ons skool se reëls was eenvoudig: geen lang hare of kuiwe nie. Maar die apteek het uit voorraad geraak met Brylcreem.
Elke meisie het haar hart op hom verloor. Daardie oë. Daardie kuif. Daardie heupe.
Dis juis oor daardie heupe dat ons nie sy naam mog noem nie. Ordentlike meisies plak nie ’n plakkaat van hom teen hul kamermure nie en luister nie na sy plate nie.
Sien, ons het nie TV gehad nie. Maar die koerante het swart-en-wit foto’s gehad wat hom in aksie gewys het. Hulle het hom Elvis the Pelvis genoem.
Dit was ’n kulturele skokgolf wat deur ons dorpie getrek het. Ek vermoed deur die hele land.
Vir Antie Mietie was dit net te veel - enigiets wat met ’n pelvis te doen het, was obseen. ’n Groter sonde as lieg of skinder.
Selfs Pa het op die bandwagon geklim. Preek hy mos een Sondag oor:
“Die einde van die sedelike beskawing wanneer ’n man se heupe meisies soos vlieë laat flou val. Hulle gaan skoon in beswyming. Sy onsedelike bewegings hipnotiseer hulle.”
Hy het in die koerant gelees van ’n show in Amerika — The Ed Sullivan Show — waar hulle glo nie Elvis se bene mog wys nie, want dit is as te gevaarlik vir die jeug beskou.
Daar was massa-histerie. Gille wat die musiek verdoof het. Ouers wat nie geweet het hoe om hul kinders teen hierdie verleiding te beskerm nie.
Ek was stomgeslaan.
“Waarvan praat jy, Pa?”
Jy praat van ’n slagveld van emosie.
Ek sien meisies wat vir die eerste keer vry is. Wat hul eie stemme gebruik. Wat ’n ritme ontdek waarvan húlle hou - en nie meer carbon copies van hul ouers hoef te wees nie.
Ek het Maandag by die huis gekom, die gordyne toegetrek - almal het gedink ek leer vir ’n biologie-toets.
Ek het my kouse uitgetrek - die simbole van status en ordentlikheid. My kaalvoete op die blink plankvloer het my aan Mina laat dink. Wat sou sý sê as sy weet wat ek wil doen?
Ek het my plaat op die draaitafel gesit. Toe die naald die plaat tref, was dit nie meer die pastorie nie.
Dit was Memphis.
Dit was vryheid.
En terwyl my heupe hul eie pad gevind het, het ek besef:
Pa preek oor die einde van die sedelike beskawing - maar ek?
Ek beleef die begin van my eie lewe.
In my algehele oorgawe het ek vergeet van Tannie Mietie, wie se oë en ore nooit rus nie. Sy het my twee harde gille gehoor en die polisie gebel.
Ek het my koud geskrik toe ek die sirenes hoor. Die ligte het voor ons hekkie gestop.
Ek het my plaat afgehaal en die deur oopgemaak. Verduidelik dat die kat ’n muis gesien het en, ná twee gille, die pad gevat het.
Ek kon sien hulle glo my nie. En ek kon sien Antie Mietie sluk amper haar valstande in - want miskien, net miskien, het sy die musiek gehoor.
Dit was nie sag nie.
Maar ek was vry.
Ek het geweier om deel te word van die ‘allerheiligstes’ wat al Elvis se plate verbrand het omdat dit “duiwelsmusiek” was.
Ek het geleer:
lekker is nie sonde nie -
dit was my eerste Biologie les wat regtig saak gemaak het.
ons dit aan onsself verskuldig is om die genot te vind in ons lewe op aarde.
“Ek het grootgeword tussen Skriflesing en gebed, maar Elvis was my eerste openbaring.”



