Ek het vroegoggend wakker geword. Dit smaak my dit word nou ‘n patroon vir my - elke oggend rondom 5 uur jaag die natuur my op, en soms raak ek weer aan die slaap, maar meer kere as nie, lê ek wawyd wakker en besluit dan om iets daaromtrent te doen.
Die ketel nog sing voordat die voëltjies besluit het wie sit die koortjies in vir die dag. Ek skuif my reg tussen kussings en sort my ‘tafel’ uit en ek begin skryf aan alles waaraan ek dink.
Dit was nog altyd vir my lekker om vroegoggend wakker te word, terwyl alles en almal rondom my stil is. My idees kom meeste van die tyd voor dagbreek by my aan - ek het nou al geleer om dit nie te probeer onthou vir wanneer ek ‘wakker’ word nie, want dan het dit al lankal aanbeweeg.
Dit het gereeld in Ierland gebeur - ek was op voordat die hane kon kraai, en ek het dikstukke geskryf voordat ek grotman se ‘sarmies’ moes gaan maak. Miskien is my kop en lyf en siel finally besig om weer ‘n eenheid te word in hierdie land - wie se siel ek nog nie kon raaksien of raakvat nie.
Besef ek met ‘n skok vanoggend dat ons vandag begin met die tweede helfte van hierdie ‘nuwe’ jaar - tyd vlieg terwyl dae soms stilstaan.
En dit is toe wat dit my tussen die ogies tref - ons is halfpad. En meer nog, halfpad is nooit te laat nie. Ons is nie agter nie. Ons is presies waar ons moet wees.
Ek dink ons is grootgemaak om te glo halfpad is net ‘n plek waar jy verbygaan.
Jy ry halfpad Kaap toe.
Jy is halfpad deur ‘n boek.
Die winter-vakansie is halfpad deur die jaar, en dit is net drie weke lank. Maar dit was altyd lank genoeg vir ons om terug te gaan skool toe, reg vir die laaste helfte.
Vanoggend tref dit my: wat as halfpad eintlik ‘n bestemming op sy eie is?
‘n Plek waar jy stilhou - nie omdat jy moed verloor het nie - maar omdat jy wil kyk of jy nog op die regte pad is. Of vir padkos. Of net vir rus.
Dis iets wat ek met ouderdom al hoe meer raaksien. Toe ek twintig was, het ek gedink die geheim van die lewe is om nooit stil te staan nie.
Op 67 dink ek die geheim is om gereeld stil te staan, want nie alles wat beweeg, beweeg altyd in die regte rigting nie.
En kyk hoe doen die natuur dit.
‘n Boom sê nie: “Ek sal eers rus wanneer ek klaar gegroei het.” Die boom rus én groei.
Asem in. Asem uit.
Hoë gety. Lae gety.
Dag. Nag.
Die natuur is vol halfpad-oomblikke. So ook is die mens. Tussen op en af. Tussen dag en nag. Tussen droom en werklikheid.
Dit is belangrik dat ons altyd onthou dat ons ook maar net vlees en bloed is. Dat dit belangrik is om balans te hê en te hou. Dat dit goed is om jou koppie gereeld vol te maak, want soos Rumi gesê het, “One cannot pour from an empty cup.”
En klop jouself op die skouer vir die laaste 6 maande van jou lewe met, “Ek is nie waar ek gedink het ek sou wees nie. Maar ek is ook nie meer waar ek was nie.”
“As the first half of the year comes to an end, may you spend less time dwelling on everything you haven’t done, and more time celebrating how far you’ve already come.”



