As jy my goed ken, sal jy weet ek is ‘n regte storieverteller.
Maar ek kan nie sommer net stories uit my duim suig nie. Ek is nie ‘n Harry Potter-tipe skrywer nie, en definitief nie iemand wat meesleurende romantiese stories skryf waar almal happily ever after leef soos Dame Barbara Cartland nie!
Barbara Cartland was die onbetwiste Queen of Romance en ‘n absolute legende. Sy was mal oor pienk — sy het meestal pienk klere en hoedens gedra, in ‘n pienk kamer geskryf, en selfs haar eie spesifieke skakering gehad: Cartland-pienk! At least het ek en sy ‘n beheptheid met ‘n spesifieke kleur in gemeen!
In haar leeftyd het sy meer as 700 boeke geskryf en meer as 750 miljoen eksemplare verkoop — sagteband-romanses wat deur miljoene verslind is. Dit het altyd gegaan oor daardie onskuldige, meesleurende liefde waar die pragtige jong meisie haar held op die wit perd vind. (Interessante feit: sy het ook die stief-ooguma van Prinses Diana geword toe haar dogter, Raine, met graaf Spencer getroud is).
Maar ek is nie daardie tipe skrywer nie.
My stories gaan oor die regte lewe — my eie ups and downs, of die lewens van mense om my wat my diep geraak het. Ek glo vas dit is empowering en noodsaaklik dat elke vrou haar eie storie vertel.
Hoekom? Want elke keer as jy die moed het om op te staan en jou storie te deel, gebeur hierdie drie dinge:
1. Dit is helend en bevrydend
Die meeste van ons ken die drie S’e: Secrets, Shame, en Sadness.
Die oomblik wat jy jou storie hardop vertel, verbreek jy die greep wat daardie drie dinge oor jou kop, hart en lyf het. Jy hou op om bekommerd te wees oor wat ander mense sal dink of sê. Deur jou pyn in woorde om te sit, bewys jy nie net aan jouself nie, maar aan die hele wêreld: jou lewe en jou gevoelens maak saak. Jy is nie ‘n onsigbare slagoffer nie.
2. Dit gee ander vroue moed
Nie net word jy self sterker nie, maar jy reik ‘n hand uit na ander vroue in soortgelyke situasies. Hulle hoor dat hulle nie alleen is met hul eie drie S’e nie. Hulle sien hoe jy dit nie net oorleef het nie, maar hoe jy daarna opgeblom en gethrive het.
Dit bring ‘n magtige ketting-reaksie teweeg. Hulle dink: “As sy dit kon doen, kan ek ook!” Met nuwe moed begin hulle húl stories vertel, en voor die wêreld weet wat gebeur, is daar ‘n hele army van vry fokken vrouens wat nie net vir homself opstaan nie, maar vir mekaar.
3. Jy eis jou superpower terug
Wanneer jy jou eie storie kan raaksien en beskryf, trek jy ‘n streep deur die praatjies en oordele van ander. Jy maak ‘n finale einde aan hoe die wêreld jou probeer definieer — jy wys aan almal wie jy regtig is.



