Oudste stuur laasweek vir my ‘n boek, The Correspondent. Ek het dit begin lees tussen granny-duties, saans en soggens. Dit het my drie dae gevat van voor tot agter.
Ek het vergeet hoe lekker ‘n nuwe boek ruik. Ek het vergeet hoeveel genot ek uit lees geput het. Ek het vergeet hoe woorde ‘n mens kan terugvat na gisters waarvan jy lankal vergeet het.
Wat ek dadelik onthou het, iets waaraan ek maklik vir die laaste 50 jaar nooit gedink het nie, was hoe oud ek was toe ek my eerste penmaat gehad het - nogal in Holland. Dit was ook toe wat ek seëls en poskaarte begin versamel het. Later het ‘n ou omie, ‘n regular by ons kafee, Fiësta in Struisbaai, en ek goed bevriend geraak en ons het vir mekaar geskryf totdat ek in die hoërskool was. Terwyl ek in die Army was, het my ma en pa briewe gekry, my sussies en my boetie. Natuurlik my boyfriend op die grens en twee of drie skoolmaats.
Ek en my Afrikaanse onderwyseres het vir jare en jare vir mekaar geskryf. Nog later sou ons uitvind ons deel een stamvader en -moeder, uit Delft en Maastricht, wat verklaar het hoekom ons altwee so besotted was met Holland. Of die Neiderlande, soos Hetta sou sê.
Dit was seker sowat ses weke gelede wat ek net skielik een dag besef het my twee meisiekinders is eintlik ook maar ma-loos, soos wat ek was toe my eie ma oorlede is met my nog nie 42 nie. En dit was ook toe wat ek besef het my kinders het nie briewe van my nie, want hulle was nooit weg van die huis af nie. Dit was toé dat ek besluit het om aan my oudste te begin briewe skryf - sodat sy iets van haar ma het, op papier, in haar ma se handskrif, wat haar ma se lief en leed met haar kan deel. Haar ma se wysheid. Haar standpunte oor alles en nog wat. Miskien het dit tot vir my kleinkinders betekenis.
So vandag het ek my eerste seël gekoop - en nog voordat ek betaal het, besef dat ‘n brief Sydney toe verseker meer as 89c gaan kos. Maar die koop van die seël was waaroor dit vir my gegaan het. Ek kon kies tussen die vlag en blomme. Ek het blomme gekies, want hier word die vlag aanbid, lees verkrag, deur mense met haat in hulle harte, gewere in hulle hande en en ‘n wreedheid wat my bangmaak.
Nou is dit vir projek 2. Waar vind ek daardie veerligte papier, groen, blou, pienk en wit, waarvoor ek so lief, en wat so ‘n sagte growwerigheid het? Die regte papier vir duisende myle oor die wêreld heen vlieg …



