'n Dooie 'smart' TV het my amper begrawe.
"Technology is only new if you remember the way it was before."
Hulle noem ons die Baby Boomers. Gewoonlik word dit gesê met ’n rol van die ogies deur ’n kind wat nog of nat agter die ore, of ‘n regte klein snotneus is.
Maar vandag kan ek julle vertel dat ek die Baby Boomer titel dra soos ‘n Eremedalje van Oorlewing. Want laat ek julle vertel: die moderne tegnologie is besig om my siel uit my lyf uit te suig, een “Password” op ’n slag.
Akrobatiese Arthritis Vingers.
My TV het besluit hy staak. Dit het op YouTube begin. Dit sluit my uit en dwing my om iets te scan. Die QR code. Laas het dit gewerk. Die slag nie.
Nou kyk, in die ou dae het jy die TV mos ’n stewige klap teen die kant gegee as die beeld begin “rol” het, en dan was hy weer reg. Maar deesdae? Nee, deesdae moet hy “ge-reset” word. Ek het nou al geleer: unplug alles. 100% af! Ek doen dit. Maar om dit te doen, moet ek by die plug hoog teen die muur kom, agter die groot TV.
Daar staan ek: my linkerhand (wat reeds vir weke kla oor die artritis) moet hierdie moerse skerm teen die muur vashou sodat hy nie afdonder nie. Intussen moet my regterhand se vingers - wat lyk en voel soos ’n klomp droë biltongstukkies - agter die TV rondvroetel om daardie plug by die muur uit te kry. Ek staan op my tone, my bloeddruk is reeds by die dak uit, en ek soek desperaat vir daardie twee gaatjies in die muur terwyl my linkerarm begin ruk soos ’n ou Trekker wat nie wil vat nie.
Dit was nie net ’n tegniese regstelling nie, dit was ’n kragtoer van uiterste wil en onmoontlikheid. Ek moes bed toe en het sommer die ding unplugged gelos. Ek het gedog, “Vat so, Katvis, nou kan jy niemand se lewe hel maak nie!”
Die Password-Hel
En as die ding uiteindelik aangaan? Dan vra hy vir ’n Password. Liewe aarde, as ek nog een wagwoord moet onthou wat ’n hoofletter, ’n kleinletter, ’n syfer en ’n uitroepteken moet hê, dan skiet ek myself met ’n rekker.
My brein het nie meer “storage” vir dinge soos K@atjie123! nie! Ek moes my passwords hoeveel maal change. Google account recovery. Email recovery. Kodes.
Genade mense! Elke liewe password het amper so gelyk: JulleFokkenEtters! Of fokkit2026#$*@
En waarom moet alles ge-”charge” word?
Fone moet gecharge word. Moderne horlosies moet gecharge word. My eie batteries het na hierdie petalje ‘n moerse charge nodig. Ek wens ek het ‘n built-in battery gehad. Of soos my pa se generator - gee my gas en ek loop. Sit my af as ek klaar geloop het.
My laptop se muis se batteries raak pap. Die TV remote se batteries raak pap. In ons tyd het ons radio’s nog gewerk met sulke groot batterye. Dit het lank gehou.
Onthou julle nog?
Daar was ’n tyd - en ek sê dit met verlange - toe ons met gaslampe en kerse geleef het. ’n Kers het nie ’n wagwoord nodig gehad nie. Jy het hom net aangesteek. Hy het nie vir jou gesê “System Update in Progress” net wanneer jy die nuus wou kyk nie.
In daardie jare het ons dinge nog met ons hande reggemaak, nie met ’n “App” nie. Vandag voel dit of ek in ’n wetenskapfiksie-fliek leef waar die masjiene besig is om te wen. My bloeddruk is dalk “moer toe” en my vingers is dalk krom, maar ek het daardie TV gewen. Hy werk.
Vir nou.
“Dankie tog vir AI!”
“Artificial Intelligence is the new electricity.”





