Ek was vier dae laas hier - maar vandag sit ek kiertsregop met my laptop oop voor my en vingers wat behoorlik dans oor die klawers! Ek moet bieg, ek het ‘n oomblik van (kom ons noem dit maar) “oorgawe” gehad laas week. Surrender in die oortreffende trap. Ek het effens opgegee, verseker oorgegee, en toe ‘n algehele en totale oorgawe aan die lewe se golwe!
Maar nou ja, ek is lief vir tik. Vandat ek in St. 7 vir die eerste maal agter daardie antieke tikmasjiene van ons tyd ingeskuif het in 1973, well, I was hooked!! Vir vier jaar lank was ek die beste tik-student. Ek het vandag nog kontak met my tik-onderwyser van my skooldae, Mnr. Fanie du Plessis. Ons het hom destyds “Die Skim” genoem (omdat hy so geruisloos agter jou kon verskyn!). Ek het sommer nou die dag vir hom op WhatsApp gevra waar daardie bynaam eintlik vandaan kom...
Hy is nou al 90, maar toe ek twee jaar gelede hier in Amerika aangekom het, het ons weer kontak gemaak. Ek kan nie beskryf hoe lekker dit vir my is om sy stem te hoor nie. Die rustigheid vanself. Nooit gejaagd nie.
Laas week stuur hy vir my ‘n video oor mans en vrouens. Ek het met tye geskaterlag, en soms die woorde met ‘n oorweldigende JA beaam - daar steek soveel waarheid in! Al wat ek kan sê is: mans kom van Mars af en ons van Venus. And never the two shall really and truly understand each other. Hier is ‘n paar klassieke voorbeelde, reg uit die lewe gegryp:
🎭 Niks-doen vs. Multi-tasking
Jy weet presies hoe dit voel wanneer jy die muur wil uitklim as jy vir hom vra: “Waaraan dink jy?” en hy antwoord ewe eiewys: “Niks nie.” Jy dink dadelik hy steek iets weg, maar hy het opreg net vir die laaste vier minute lank gekyk na ‘n mier wat ‘n broodkrummel oor die vloer dra! Mans het die ongelooflike vermoë om letterlik aan niks te dink nie. Vroue se brein, aan die ander kant, is soos ‘n internet-browser met 45 oop oortjies (tabs), waar daar terselfdertyd musiek speel, ‘n inkopielys gemaak word, en ‘n argument van drie weke gelede in detail herleef word.
Die Dieper Waarheid: Vroue dra dikwels die emosionele en logistieke vrag van die hele huishouding in hul koppe rond. Ons raak effe die moer in wanneer die man so maklik kan afskakel en letterlik én figuurlik aan niks dink of doen nie - en veral niks sê nie! Maar miskien is dit iets wat ons, baie stilletjies, by hulle kan aanleer vir ons eie siel se gesondheid.
🎭 Een sak vs. Twee soetkyste
Mans pak bitter selde enigiets in vir “just in case”. Hy vat miskien een ekstra onderbroek saam vir die wis en die onwis, maar solank hy sy foon en sy charger het, is hy reg vir ‘n wegbreeknaweek.
Vrouens? Ons pak in asof ons op ‘n onbewoonde eiland gestrand gaan sit. Ons is reg vir reën, vir ‘n heatwave, en natuurlik “just in case” daar skielik ‘n uitnodiging na ‘n fancy restaurant opduik. Sy voel onmiddellik beledig wanneer hy begin mompel en sug terwyl hy die kar probeer pak. Hy het sy een klein sak, en hier moet hy skielik Tetris speel met haar tasse net om alles ingepas te kry. Die tragedie en die komedie is tasbaar!
Die Dieper Waarheid: Dit gaan nie oor die klere nie; dit gaan oor die feit dat vroue geprogrammeer is om te versorg en voorbereid te wees vir enige krisis. Ons pak vir almal se skades en skandale in - hulle pak net hulself in.
🎭 Siek Wees: Die “Man Flu” Eksperiment
Ons almal was al daar - die siek man. Wanneer die griep sy lyf tref, sit hy met ‘n bewerige hand en probeer sy testament skryf, asof hy reeds met een voet in die graf staan. Wanneer ons griep kry? Ons drink twee Panados, maak kos, was skottelgoed en doen alles wat ons in elk oondag in elk geval doen.
Die Dieper Waarheid: Hoekom is ons so gekondisioneer dat ons voel ons mag nie afskakel of siek wees nie? Asof die hele wêreldstelsel sal platval as ons nie opstaan nie. Ek dink dit is niks minder as reg dat ek en jy, as vrou, ons kinders - veral ons seuns - leer om húlle kant meer as gewoonlik te bring wanneer die vrou van die huis nie kan nie. Baie ma’s hardloop agter hulle seuns se wense aan asof hulle nog peuters is, en die arme toekomstige vrou is die een wat eendag die prys daarvoor betaal!
🎭 Sig vs. Intuïsie (Aka die “Soek-Siekte”)
Laat ons nie meer hieroor sê as wat nodig is nie! Ons almal ken daardie bekende woorde: “Liefie, waar is my sleutels / die botter / my grys sokkies?” Jy antwoord uit die ander vertrek: “Waar dit hoort!” Hy kap terug: “Vrou, ek het reeds dáár gekyk!” En dan volg die uiteindelike dreigement: “As ek hier opstaan en dit kry...!!!” (En natuurlik kry jy dit binne twee sekondes, reg voor sy oë). Mans sien dikwels net dit wat fisies en aktief na hulle toe aangery of gestap kom.
Die Dieper Waarheid: Dit gaan oor hoe ons breine geprogrammeer is. Mans het dikwels tunnel vision (hulle fokus intens op een spesifieke ding), terwyl vroue ‘n baie breër bewustheid het wat, amper soos ‘n uil, 270 grade in die rondte kan kyk.



