Ek dink daar is iets besonders aan ‘n Sondag. Of moet ek sê, “was” - want dit is nie meer helemal so nie.
Dit was altyd asof die wêreld vir ‘n paar uur stadiger asem gehaal het. Die geraas was minder. Die gejaag omtrent glad nie. En dan kry ‘n mens skielik kans om alles te hoor wat die res van die week stilgebly het, om die eettafel.
Van my beste en gelukkigste memories is om ‘n tafel gebore.
Ek vermoed ons almal kry soms hierdie mymeringe, of nostalgie - van wat was en nie meer is nie.
Ek onthou hoe ons deur die veldjie oorkant ons huis kerk toe gestap het - van 18de Laan af 16e Laan toe. NG Rietfontein-Suid gemeente. Ek onthou rys, vleis en aartappels, met wortels en groenbone gemash met ui, aartappel en bacon as bygeregte.
Dan was daar stilte in die huis. Totdat dit tyd was om blomme op grafte te gaan sit.
Jy probeer onthou hoe dit gevoel het om ses jaar oud te wees - hoe jou ma se stem geklink het voordat jy ooit geweet het grootmense kan ook moeg wees. Hoe jou pa se hand gevoel het. Hoe ‘n Sondagmiddag geruik het.
Maar jy kan nie heeltemal nie. Ek sukkel.
Ek onthou fragmente. Los foto’s. ‘n Liedjie. ‘n Reuk. ‘n Straatnaam. Die geluid van ‘n hekkie wat toeslaan.
Dis amper erger dat jy weet dit was daar, maar nie meer heeltemal kan teruggaan nie.
Ek dink aan die meisie wat tiener geword het. Die jong vrou wat verlief geraak het.
Die ma wat altyd iemand anders eerste gesit het. Die vrou wat gedink het daar is nog soveel tyd.
En skielik sit daar ‘n ouma. Nie omdat sy oud voel nie, maar omdat die lewe stil-stil aangehou beweeg het terwyl sy besig was om dit te leef.
En nou? Nou is die kinders groot. Die huis is stiller. Die telefoon lui minder.
Party mense bestaan net nog in foto’s.
Daar is dae wat jy wonder waar al daardie weergawes van jouself heen is.
Maar wat as dit nooit regtig verdwyn het nie?
Want die klein dogtertjie in my leef nogsteeds in die manier waarop ek mooi goed optel - skulpe, klippe, vere.
Die tiener leef nog in die liedjies wat jou hart onverwags laat ruk en my op die daad terugvat na ‘n tyd in my lewe wat so helder soos daglig voor my verskyn.
Die jong ma leef nog in my wanneer ek kans kry om vir my kind kos te maak en te sien hoe lekker hy eet.
Waar los dit my en die ouma van nou?
Ek dra hulle almal saam, en miskien is dit hoekom Sondae soms seermaak, en baie melancholy voel:
Nie omdat ons terug wil gaan nie, maar omdat ons vir ‘n oomblik die vroue onthou wat ons was, en besef, daar is steeds iets van elkeen in my. Al vertel my en jou lewe miskien nie meer daardie stories nie.
Laat my afsluit met dit:
As jy ooit twyfel hoe ver jy kan gaan, onthou hoe ver jy gekom het. En onthou: die storie van ons lewens word opgemaak deur die oomblikke van ons lewens.
No regrets, net ‘n hart wat sê, “Thank you the memories” en dat ek steeds heelhuids en gesond is 💜




Dis waar Sondae was altyd spesiaal, met famielie. Neefs en niggies het bymekaar gekom. Onder die groot boom op die gras gelê of gespeel. En net kind gewees, en hoe ouer mens word dink jy meer wens jy kon nog net een keer n kind, tiener en jonk vrou wees x