Hoe ouer ek word, hoe nostalgieser raak ek. En hoe lekkerder word dit om dinge te onthou.
Ek dink al van laas week af aan ons ou draadhekkies. In Pretoria het ons so ‘n hekkie gehad - nie op L’Agulhas nie. Ek het later in Philadelphia sulke hekkies gesien, en miskien is dit waar my verlang begin het toe ek in 2022 daar was. Nog later daardie selfde jaar het ek dit gesien in Stanford, ‘n juweel van ‘n plekkie waar ek baie maklik sou kon bly as my lewe anders was.
In Ierland het ek die voorreg van een moerse groot staalhek gehad wat altyd oop was. Niemand het ooit toe hekke gehad in Ierland nie. As daar ‘n hek was, was dit altyd oop, en die heinings laag.
In Suid-Afrika het niemand ‘n keuse nie - agter massiewe sekuriteitshekke en elektriese heinings probeer jy jou en jou familie veilig hou. Hier in Texas het niemand heinings tussen huise nie. Ek het hierdie romantiese idee van die white picket fence wat ons altoos op TV gesien het, maar hier in Flower Mound is daar geen so iets te bespeur nie.
Die Sjarme van die Ou Draadhekkie
Vir my gaan dit oor eenvoud en nostalgie. Anders as vandag se massiewe sekuriteitshekke, was daardie ou draadhekkies dikwels laag, gemaak van ruitjiesdraad of ligte ysterraamwerke. Hulle het dikwels daardie kenmerkende klank gemaak as hulle toeklap - ’n metaalagtige klens wat vir almal in die huis laat weet het daar is ’n kuiergas op pad.
Die Natuur se Vennoot
Omdat hulle van oop draad gemaak is, het hulle nie die tuin weggesteek nie. Rankrose, kamperfoelie of jasmyn het dikwels met die jare oor die raamwerk gevleg. Die hekkie was dus nie net ’n skeiding nie, maar deel van die lewende tuin self. En wat is mooier as an open secret garden?
Hekkies as “Gateways to Magic”
In die literatuur en die menslike verbeelding is ’n hekkie of poort selde net ’n stuk hardeware. Dit is deel van jou grootwordjare. Hoeveel hekkies het ons nie al oop en toe gemaak in ons lewens nie? Vandag kyk ek daarna en sien iets anders: ’n simbool van oorgang.
1. Die Drumpel tussen Twee Wêrelde: Om deur ’n tuinhekkie te stap, is soos om van die harde, besige buitewêreld (die straat, die alledaagse gewoel) na ’n persoonlike heiligdom (die tuin) oor te skakel. Dit is ’n fisiese oorgang wat jou herinner om asem te haal en die “geraas” agter te laat.
2. ’n Portaal na die Onbekende: In stories - dink maar aan The Secret Garden of sprokies - is ’n klein, half-versteekte hekkie dikwels die ingang na iets wat pure magic is. Dit vra vir nuuskierigheid. As jy daardeur stap, kies jy doelbewus om die betowering van die oomblik toe te laat. Dit dwing jou om stadiger te loop, te kyk na die blomme, en te luister na die voëls.
3. Die Uitnodiging tot Ontdekking: ’n Draadhekkie is deursigtig. Jy kan sien wat anderkant lê, maar jy kan dit eers werklik ervaar as jy die knip lig en deurloop. Dan kom al jou sintuie in een oomblik saam. Dit is ’n pragtige metafoor vir die lewe: die towerkuns is dikwels reg voor ons oë, maar ons moet steeds die aksie neem om die hekkie oop te maak.
"Life can only be understood backwards; but it must be lived forwards." (Søren Kierkegaard)



