Toer jy, of travel jy?
“A tourist collects moments. A traveler is changed by them.”
’n Toeris kom met ’n lys:
Hoogtepunte. Foto’s. Yskasmagnete.
Alles om terug by die huis te kan sê: “Sien! Ek was daar.”
Maar ‘n vakansie is kort. Nie lank genoeg om te luister nie. Nie lank genoeg om ‘n taal te leer praat nie.
’n Toeris se voete vat skaars grond. Op die bus. Klim uit. Kyk rond. Repeat.
Amper soos party mense se lewens. Hulle hardloop deur hul eie dae soos ander deur lughawens — boarding pass in die hand, oë altyd op die volgende bestemming.
Altyd oppad. Nooit regtig hier nie.
Hulle check in op ’n Maandag en check uit op ’n Vrydag. Naweke word ’n blur. Selfies bewys jy het ’n lewe.
Hartseer word gefilter. Gevoelens word uitgestel. Die een dag word die volgende dag, en so aan.
’n Toeris in die bubble van sy eie bestaan. Altyd op soek na gemak. En bewys dat hy bestaan het.
’n Reisiger is anders.
Sy verdwaal. Sy vra vrae. Sy raak stil.
Sy sit op sypaadjies en eet ’n roomys. Sy drink koffie wat nie proe soos huis nie.
Sy bly wanneer dit ongemaklik raak. Sy is nie bang vir stiltes wat ander doof maak nie.
Sy kyk met sagte oë na haar verliese. Na haar foute.
Na haar waarheid. En waarheid is nie altyd mooi nie.
Dit is rou. Dit is ongerieflik. Maar dit maak vry.
Dit bring my by ’n vraag wat ek myself gereeld vra:
Is ek ’n gas in my eie lewe? ’n Besoeker?
Iemand wat net die uitsigte bewonder — maar nooit die grond voel nie?
Want die lewe is kort. Ek wil my dae ruik.
Ek wil my foute raaksien en regmaak.
Jammer sê as ek iemand per ongeluk te na gekom het.
En doelbewus kies om nie met opset seer te maak nie.
Ek soek vreugde. En ek wil dit leef sonder om verskonings te maak vir my lig.
Ek wil ’n reisiger wees in my eie lewe. Opnuut.
Al beteken dit ek verdwaal weer. Want daar is nie net hoogtepunte nie.
Maar dit beteken nie ek kan nie op ’n gewone Woensdag stil raak en dink:
Hierdie oomblik — hier waar ek nou is — is my lewe.
Die vraag is nie hoeveel keer jy al ver gereis het nie. Die vraag is:
Het jy al tuisgekom in jou eie vel?
Of speel jy nog toeris in jou eie bestaan?
Hoe reis jy deur jou pyn?
Jou vreugdes?
Jou drome?
Sit jy lank genoeg stil sodat dit iets in jou kan sag maak — kan heel maak?
Of vlug jy voordat jy kan voel?
Bewonder jy jou lewe — of bewoon jy dit?
Ons almal koop soms poskaarte van ons eie bestaan.
Ons wys die glimlag. Die suksesse. Die mooi uitsigte.
Maar dit is nooit te laat om op te hou net bestaan en voluit te begin leef nie.
Elke dag bring ’n nuwe keuse:
Toer jy — of travel jy?
Ek kies travel.
En ek praat nie van soetkys pak, lughawe toe foeter en op ’n vliegtuig klim nie.
Ek praat van hierdie lewe.
Hierdie een.
Selfs al voel dit soms soos ’n slow boat to China wat stof vergader op ’n kaggelrak.
Ek is reg om elke nuwe dag iets nuuts in my — en om my — te ontdek.
Is jy met my?



