Ek is besig om Maestro in Blue op Netflix te kyk, en ek is disgusted tot in my kleintoontjie toe oor die abuse wat in hierdie TV-reeks plaasvind.
Fisiese geweld. Emosionele geweld. Manipulasie. Vrees. Stilte. Die dinge wat agter toe deure gebeur terwyl die res van die wêreld aangaan asof alles normaal is.
En dit laat my wonder: hoe is ons, in 2026, nog steeds hier?
Want laat ons dit nie net op Griekeland pak nie. Geweld teen vroue is ’n groot probleem in Griekeland, maar ook regdeur Europa, en ja — hier in Amerika ook. Veral wanneer godsdiens, patriargie, beheer en ’n geweer soms so gemaklik in dieselfde hand kan beland.
Die hele sisteem is, in my en Hetta se ogies, helemal opgefok.
Men rule the world, and women fight to exist and survive — never mind thrive.
En dit is nie iets nuuts nie.
Vroue baklei al vir meer as ’n honderd jaar vir hulle regmatige plek in die wêreld. Vir die reg om te stem. Om te werk. Om dieselfde werk teen ’n billike salaris te doen. Om opleiding te kry. Om eiendom te besit. Om hulle eie geld te beheer. Om oor hulle eie liggame te besluit.
En tog, meer as ’n eeu later, is dit steeds ’n struggle.
In Noord-Amerika en Europa het vroue in die vroeë 1900’s vir stemreg en beter werksomstandighede geveg. In Rusland het vroue in 1917 die strate ingevaar met die eenvoudige, desperate eis: “Gee vir ons brood en vrede.”
In Suid-Afrika het ongeveer 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 na die Union Buildings in Pretoria gemarsjeer om teen die paswette te protesteer. Hulle battle cry was eenvoudig dit: “Jy slaan ’n vrou, jy slaan ’n rots.”
En daardie dag het uiteindelik deel geword van die Suid-Afrikaanse kalender as Vrouedag. Maar hier is die ding wat my die meeste tref: dit maak nie saak watter kleur, ouderdom, klas, nasionaliteit of agtergrond nie, vroue se pleidooi was nog altyd eintlik ongelooflik eenvoudig.
Ons vra nie vir die wêreld nie. Ons vra vir ’n lewe. ‘n Lewe …
… waarin daar kos op die tafel is; waarin ons kinders veilig kan grootword; waarin daar vrede is in die land waarin ons woon.
’n Lewe waarin ’n kind kan droom — en daardie droom kan probeer najaag sonder dat oorlog, geweld, armoede of iemand anders se magsbeheptheid dit van hom of haar wegneem.
Ons vra vir werk met ’n salaris wat ons in staat stel om vir onsself en ons kinders te sorg. Ons vra vir die vryheid om ons eie geld te verdien en te beheer.
Ons vra vir ’n huis waarin ons veilig kan slaap.
Ons vra vir ’n liggaam wat aan ons behoort.
Ons vra vir die reg om nee te sê — en dat daardie nee gerespekteer word.
Ons vra vir ’n verhouding waarin liefde nie beteken dat jy jouself verloor nie.
Want elke vrou behoort die basiese veiligheid te hê om te kan sê:
Ek kan huis toe gaan sonder om bang te wees.
Ek kan my mening gee sonder om gestraf te word.
Ek kan sê nee sonder om bang te wees vir wat daarna gebeur.
Ek kan my eie geld hê.
Ek kan my eie besluite neem.
Ek kan my eie vriende hê.
Ek kan ’n deur toemaak en weet my privaatheid sal gerespekteer word.
Ek kan my eie liggaam besit.
Ek kan weggaan as liefde gevaarlik geword het.
En miskien die belangrikste:
Ek kan myself wees sonder om voortdurend te wonder watter weergawe van myself die ander persoon gelukkig sal hou.
Want ’n veilige verhouding is nie net een waarin ’n man jou nie slaan nie.
Dis een waarin jy nie op eiers hoef te loop nie. Waar jy kan sê:
“Ek het seer. Ek stem nie saam nie. Ek het spasie nodig. Ek wil dit nie doen nie. Ek het van plan verander.”
En die antwoord is nie woede, dreigemente, vernedering, stilte, straf of manipulasie nie. Die antwoord is: “Okay. Ek hoor jou.”
Want liefde sonder respek is nie veiligheid nie. En liefde sonder veiligheid is nie liefde soos ek dit verstaan nie.
Te veel vroue huil agter toe deure oor die emosionele abuse van ’n boelie wat sy mag probeer bewys deur haar kleiner te maak. Te veel vroue steek ’n geswelde of blou oog weg agter ’n te groot sonbril.
Te veel vroue leer om die klank van ’n sleutel in ’n voordeur te interpreteer. “Is hy in ’n goeie bui? Kan ek nou praat? Wat gaan hom kwaad maak? Wat moet ek vandag vermy?”
Dit is nie ’n lewe nie. Dis oorlewing.
En te veel vroue se lewens word bedreig — of kortgeknip — deur ’n jaloerse, besitlike grotman wat glo dat liefde hom eienaarskap oor ’n ander mens gee.
En dan is daar die ander soort geweld.
Die woorde van ’n kind wat jy nege maande onder jou hart gedra het. Die kind vir wie jy alles sou doen. Die kind wat jou hart in stukke kan breek sonder om ooit ’n hand na jou op te lig. Want vroue kan ook deur woorde vernietig word.
Daarom dink ek nie meer dat ons net moet vra: “Hoe beskerm ons vroue?”
Miskien moet ons vra: “Wat het ’n vrou nodig om veilig genoeg te voel dat sy nie haar hele lewe hoef te spandeer om haarself te beskerm nie?”
Sy het fisiese veiligheid nodig. Finansiële veiligheid.’n Veilige huis. Emosionele veiligheid. Haar eie lyf se veiligheid. Respek. Toegang tot hulp wanneer sy dit nodig het. Mense wat haar glo.
’n Gemeenskap wat haar nie alleen laat wanneer sy sê: “Ek het hulp nodig.”
En sy het ander vroue nodig.
Nie noodwendig ’n honderd vriendinne nie.
Net daardie paar wat die telefoon sal antwoord wanneer dit 2 uur in die oggend is.
Die vroue wat sal sê:
“Ek glo jou.” “Kom hier.” “Jy hoef dit nie alleen te hanteer nie.” “Ons het jou.”
Want daar is iets ongelooflik kragtig aan vroue wat mekaar nie probeer afbreek nie, maar optel. Vroue wat mekaar nie as kompetisie sien nie, maar as comrades. Vroue wat mekaar se drome beskerm.
Vroue wat ’n ander vrou se hand vat en sê:
“Jy hoef nie kleiner te word om iemand anders gemaklik te laat voel nie.”
En miskien is dit wat ek vandag vir elke vrou wens:
Ek wens vir jou ’n huis waarin jy veilig kan slaap. ’n Liefde waarin jy nie bang hoef te wees nie. ’n Liggaam waaroor jy self besluit. Geld wat jou ’n keuse gee. Werk wat jou waarde erken. Vriende wat jou waarheid kan hanteer. Vroue wat jou hand vashou. ’n Stem wat jy nooit weer hoef stil te maak om iemand anders se ego te beskerm nie.
Die vryheid om te vertrek wanneer iets jou breek. Die moed om weer te begin. Die ruimte om sag te bly.
Want sagtheid is nie swakheid nie. Liefde is nie oorgawe nie. Vriendelikheid is nie onderdanigheid nie.
En om vir vrede te kies beteken nie jy is swak nie. Dit beteken jy verstaan die verskil tussen mag en krag.
Mag probeer beheer. Krag hoef nie.
Mag wil altyd weet, “Hoe verneder ek jou?’ Krag vra altyd, “Hoe lig ek jou op?”
En dit is hoekom ek steeds glo in vroue. Nie omdat vroue perfek is nie. Ons is nie.
Maar omdat ek glo daar is ’n ander manier om ’n wêreld te bou.
Een waarin kinders nie grootword met geweld as voorbeeld van manlikheid nie. Een waarin liefde nie met besit verwar word nie. Een waarin ’n vrou nie hoef te kies tussen veilig wees en vry wees nie. Een waarin ons nie harder hoef te word om te oorleef nie.
Ons moet die wêreld veilig genoeg maak dat vroue weer sag kan wees.
En wanneer vroue mekaar optel?
Wanneer ons ophou om mekaar se vyande te wees?
Wanneer ons ons stemme bymekaar sit?
Wanneer ons sê: “GENOEG is fok weet GENOEG!”
Dan, liewe vrou, dan begin ek en jy voluit lewe!
Viva! Viva VFV, Viva! 💜



