Ek weet nie wat dit deesdae met my is nie — dalk is dit net ’n tydelike “glitch” — maar ek mis deesdae hier en daar ’n paar dinge. Op Facebook skryf ek Vrydag die 26ste Februarie in plaas van Maart. En hier sien ek dat ek sommer die tweede reël in my eie gedig miskyk en reguit na die derde een spring. Gelukkig het dit niemand beseer of in die hospitaal laat beland nie; ons is almal nog veilig in die land van die lewendes.
In die land waar ons almal weet wat trane is — of altans, ons behoort te weet hoe om dit reg te gebruik.
Waarom die “Label”?
Hoekom is die samelewing so vinnig om etikette om mense se nekke te hang? Om met vrymoedigheid emosioneel te wees, word amper as ’n aanklag beskou. Maar wat is trane werklik?
Trane is jou hart wat praat wanneer jou lippe nie kan nie. Dit is ’n stom taal met woorde wat vra om geskryf te word. Trane is altyd heilig. Dit is wanneer jou oë die storie vertel omdat jou mond nie die woorde het vir hoe stukkend — of hoe gelukkig — jou hart werklik is nie.
Trane doen vir jou siel wat seep vir jou lyf doen: dit was dit skoon.
Dit is nie ’n teken van hoe broos ons is nie, maar eerder ’n bewys van ons kapasiteit om te voel, lief te hê en te verloor.
Die Wegsteek-speletjie
Ek het nog altyd maklik aangedaan geraak, maar hoe ouer ek word, hoe meer gereeld gebeur dit. Vandag besef ek — na Richie se dood, met my kinders so wyd versprei en ek alleen in Ierland — dat ek geleer het hoe om my trane weg te steek. “Gifman” het nooit trane verstaan nie, en ook nie hoekom my verlange na Richie my so hartseer kon maak nie.
Maar mense soos hy is die uitsondering. Die vermoë om trane te stort is ’n unieke menslike reaksie op enige diep, intense emosie. Of jy nou hartseer is, tot die dood toe moeg, of onder uiterste stres verkeer. Soms is dit selfs omdat jou hart nie al die vreugde kan hou nie, en dit dan eenvoudig by jou oë uitloop.
Medisyne vir die Lyf
Selfs fisiese pyn het my al menige maal in trane gehad. Dit werk amper beter as pynstillers; dit is ’n ongelooflike manier om van emosionele, fisiese en geestelike spanning ontslae te raak.
Die “slim mense” sê dat as jy jou trane gebruik soos dit bedoel is, jy tussen 56 en 115 liter trane in ’n jaar kan stort! Ek weet nou nie of die trane van uie skil daarby ingereken is nie — vir ons vroue wat gereeld in die kombuis staan, moet dit ’n groot deel wees. Om nie eers te praat van rook, stof en ander irritasies nie.
Afgesien van jou algemene welstand, hou trane ook jou oë gesond. Veral vir diegene van ons in menopouse wat sukkel met “dry-eyes”, is daardie vog broodnodig.
Van Lekker Lag kom Lekker Huil
Almal voel beter na ’n goeie huilsessie. Ek dink ’n goeie komedie is net so belangrik vir die siel as ’n behoorlike “tranetrekker”.
Ek het grootgeword met die sêding: “Van lekker lag kom lekker huil.” Dit is dikwels gesê asof dit iets slegs is — dalk bedoel as ’n waarskuwing teen oordaad — maar die boodskap wat diep binne gaan lê het, is dat huil “verkeerd” is. Dat dit vermy moet word.
Ek wonder of die feit dat seuntjies grootgemaak word met die idee dat “Cowboys don’t cry” die rede is hoekom vroue omtrent twee tot vyf keer meer per maand huil as mans. Dit is ’n noodsaaklike uitlaatklep. Hoe hartseer is dit dat mans voel hulle mag nie trane afvee nie? Is dit dalk hoekom vroue langer leef? Who knows? Ek kan maar net wonder.
Violet en Peppa Pig
Ek moet julle die storie vertel: Wanneer Violet alleen by my is, kyk ons Peppa Pig. As daardie klein varkies huil, spuit die trane by hul oë uit soos ’n tuinslang. Onthou julle nog die “donkie” op die tuinslang en hoe ons as kinders daardeur gehardloop het? Dit is presies hoe hulle huil!
Dan lag ek en sy tog te lekker. As ek vra: “Is George a cry-baby?”, sê sy dadelik “Yeah!”. Maar as ek vra: “Is Violet a cry-baby?”, kom daardie “No!” vinnig en beslis.
Kosbaar.
So, terwyl ons kan, laat ons voluit leef! Laat ons lag en soos fools lyk vir ander. Laat ons huil en skuldig bevind word as sentimenteel. En laat ons seker maak ons drome en ideale word nie deur die mense om ons, vertrap nie.
“The most painful tears were the ones that didn’t fall.”



