Wanneer ‘n wete stiller as ‘n wens is.
“You’ll never get anywhere if you go about what-iffing like that.” (Roald Dahl)
My oudste het gisteraand iets gesê wat my laat stil word het.
Sy vra my of ek al gehoor het van die nege-jaar siklus. Ek sê ja - maar erken eerlik dat ek dit nog nooit behoorlik geSherlock & Holmes het nie.
Toe sê sy, heel eenvoudig, dat hierdie jaar die begin van ’n nuwe siklus is. Ons raak albei stil. So asof ons oor duisende myle en baie water na mekaar kyk, en amper gelyktydig sê:
“Hierdie jaar gaan beter wees.”
En glo my — dit was nie ’n wens nie. Dit was ’n wete.
Ons word grootgemaak om te glo die lewe moet in reguit lyne beweeg. Dat jou grafiek altyd opwaarts moet neig. En wanneer dit nie doen nie, voel jy soos ’n mislukking.
Maar my lewe - en waarskynlik joune ook - lyk meer soos ’n cha-cha-cha: vorentoe, agtertoe, op, af.
En dalk is dit omdat mens-wees nie met reguit lyne werk nie. Dit werk in siklusse. Soos seisoene. Soos asemhaling. Soos verlies en rou. Breek en herstel.
Elke nege jaar voltooi iets homself. Niks dramaties nie. Net ‘n sagte ‘finies en klaar.’
Hoe ’n nege-jaar siklus lyk
Dit begin natuurlik by die begin. Iets nuuts steek kop uit. Nie groot nie. Nie te hard nie.
Net ’n sagte fluistering - dalk selfs net ’n ‘ja’ diep binne-in jou.
Jy weet nie waarheen jy op pad is nie, maar jy weet presies waar jy nie meer is nie.
Soos nege jaar gelede met my - toe my kinders Australië toe is, en Richie weer sy sterre-outfit aangetrek het - en ek Ierland toe is om te gaan skuil en huil. Die eerste vier jaar lank.
Daar was dit herhaaldelik net probeer en leer. Trial & error. Ek het gekies om myself volkome aan Pers Heks oor te gee.
Wat ons ookal besluit om te doen, soms werk dit, soms is dit ‘n moerse sukses, af en toe selfs ‘n onderskeiding - ander kere niks anders as net ‘n gevoel van ‘n klein fokkoppie nie.
And yet - ons leer. Ons besef wat sit gemaklik. Ons hou daaraan vas. Dit wat nie pas nie, val weg langs die pad.
Jare vier tot ses bring ons face to face met die waarheid: as jy nie gemaklik is met eerlik wees met jouself nie, kan dinge maklik hand-uit ruk.
Jy begin vrae vra. Wonder en ponder. En dit wat nie baie lekker gepas het nie, begin druk en knyp. Soos ek en gifman:
“Is dit regtig waarvoor ek on the dotted line geteken het? Want nou voel dit minder soos ’n lewe, en meer soos ’n lewenslange tronkstraf. Party dae sommer net plein soos die doodstraf. Is dit hoe ek vir die res van my lewe wil voel?
Hoekom is ek besig om te pretend - wat niks anders is as om vir myself te lieg nie?”
En dit is hier wat jy begin verander.
Verhoudings verander.
Jou blik op die lewe begin wipplank ry na nuwe, ver horisonne.
Dan kom jaar sewe en agt.
Kom ons noem dit maar fireworks.
Jy het minder geduld vir nonsens — syne én jou eie. Jy is moeg vir die bullshit. Jy is gatvol vir sy: “Please explain this to me?” Jy begin jou energie bewaar. Jy raak stiller.
En hy dink hy het jou presies waar hy jou wil hê - so mak soos ‘n lammerkie. Maar hy sien en besef nie hoe stiller jy raak, hoe sterker word jy nie.
Hy het geen idee hoe jy hom gaan verras wanneer jy eendag besluit:
“This is it! Tot hiertoe en nie verder nie. Ek het genoeg gehad. Ek trek uit. En ek beweeg aan.”
Ek wag twee jaar in Suid-Afrika vir my visa. Toe dit uiteindelik in my paspoort is, is ek verlig. Maar die twee jaar in my geboorteland was nie jellie en custard nie. Dit was ‘n soms daaglikse gesukkel om sane te bly.
Maar toe kom ek en die better days bymekaar uit - en ek gaan amper onder. My siel pas nie in hierdie land nie. Alles voel soos gesukkel. Die produkte in die winkels. Die taal. My humor vlieg reg oor hulle koppe. Daar is geen diep gesprekke nie.
En toe word ek, letterlik en figuurlik, ’n weeskind, toe die laaste lid van my oorspronklike familie haar laaste asem uitblaas.
“The moment in between what you once were, and who you are now becoming, is where the dance of life really takes place.” (Barbara De Angelis)
Stadig, baie stadig, teen September laas jaar, begin ek settle.
Eerste in my kop. My hart het langer gevat. My lyf is nog nie heeltemal daar nie.
Maar ek het begin klaar maak met baie dinge. Met alles wat al vir té lank en swaar in my gelˆ
Ek maak klaar met alles wat vir té lank té swaar in my gelê het.
Ek besluit om te laat gaan. Ek hou aan niks meer vas nie. Nie eers die verlange na my bloed nie. Ek laat alles rus en berus myself by alles.
Ek hou net vas aan dit wat ek geleer het.
En hier is ons nou weer: jaar een.
Moenie vir een oomblik glo alles gaan perfek wees nie - nie vir my of vir jou nie.
Gelukkig hoef ons nie weer dieselfde lesse te leer nie - as ons slim genoeg was om dit die eerste keer mooi te leer.
Alles is weer moontlik. Daar is rede om te hoop. En selfs weer te glo in geluk.
En soms is dit genoeg - om weer van voor af te begin.



